Die Boodskap

2 Kronieke 23:1-12 Die Boodskap (DB)

1. In Atalia se sewende regeringsjaar het Jojada ’n paar militêre offisiere in sy vertroue geneem. Hy het ’n ooreenkoms met hulle aangegaan. Hulle was Asarja, Jerogam se seun; Ismael, Joganan se seun; Asarja, Obed se seun; Maäseja, Adaja se seun en Elisafat, Sikri se seun.

2. Hulle het deur die hele Juda gereis en die Leviete in die Judese stede en die Israelitiese familiehoofde opgeroep om in Jerusalem bymekaar te kom.

3. Hulle almal het toe in die tempel van God vergader en ’n ooreenkoms met Joas, die jong koning, aangegaan.Jojada het vir hulle gesê: “Dis tyd dat die koning se seun ons regeer. Die Here het belowe dat ’n seun uit Dawid se nageslag altyd ons koning sal wees.

4. Hier is die plan: van die priesters en Leviete wat op die sabbat aan diens kom, moet ’n derde die ingange bewaak,

5. ’n derde die paleis en ’n derde die Fondamentpoort. Al die ander mense moet in die tempel se voorhof bymekaarkom.

6. Niemand behalwe die priesters en Leviete wat in die tempel moet gaan werk, mag in die tempel ingaan nie. Net die mense wat in die tempel moet gaan werk, mag daar ingaan. Al die ander moet buite bly.

7. Julle Leviete moet ’n lyfwag rondom die koning vorm. Hou julle wapens gereed en maak enigiemand dood wat ongemagtig in die tempel inkom. Bly die hele tyd by die koning en pas hom op.”

8. Die Leviete en die ander Judeërs het Jojada se bevele presies uitgevoer. Elke leier het ’n dubbele diensgroep gehad, naamlik dié wat aan diens gekom het, maar ook dié wie se diensbeurt verby was, want Jojada het hulle nie laat huis toe gaan na hulle klaar gewerk het nie.

9. Jojada het toe vir die offisiere van die spiese en skilde gegee wat Dawid vroeër in die tempel laat stoor het.

10. Hy het die gewapende wagte rondom die koning opgestel. Hulle het ’n ry gevorm van die suidelike hoek van die tempel tot by die noordelike hoek en reg rondom die altaar.

11. Jojada en sy seuns het toe vir Joas, die koning se seun, uitgebring en hom koning gemaak. Hulle het ’n kroon op sy kop gesit, die koninklike volmag in sy hand gesit en hom gesalf deur olie op hom uit te giet. Daarna het almal geskree: “Lank lewe die koning!”

12. Atalia het die lawaai by die tempel gehoor van die mense wat die koning toejuig en uitgegaan om te kyk wat daar gebeur.