Die Boodskap

Jeremia 52:16-26 Die Boodskap (DB)

16. Maar Nebukadnesar het van die armste mense toegelaat om in die land agter te bly. Hulle moes die wingerde versorg en die landerye ploeg.

17. Die Babiloniërs het ook die koper gevat wat in die tempel was. Hulle het die koperpilare afgebreek en ook die voetstukke waarop die koperwasbakke gestaan het. Hulle het dieselfde gedoen met die groot koperbad. Al hierdie koper het hulle Babel toe weggedra.

18. Hulle het ook van die ander voorwerpe saamgevat wat in die tempel gebruik is. Dit het ingesluit potte, grawe, messe en die bakke waarop hulle wierook gebrand het. Verder ook die panne waarin hulle die kole vir die offers geskep het.

19. Nebusaradan het ook die kleiner bakkies, potte en bekers gevat wat hulle vir die drinkoffers gebruik het. Al die voorwerpe was van silwer of goud gemaak.

20. Van die kopergoed was te swaar om te beweeg. Dit was van die goed wat koning Salomo destyds vir die tempel laat maak het. Dit was goed soos die twee koperpilare, die koperbad, die twaalf bulle onder hierdie bad en die voetstukke van die wasbakke.

21. Elkeen van hierdie pilare was net so oor die agt meter hoog en net meer as vyf meter in omtrek. Die pilare was hol binnekant en die wande was so vier vingers dik.

22. Die koperkopstuk bo-op elkeen van hierdie pilare was ongeveer twee en ’n half meter hoog. Die kopstuk was reg rondom versier met koperafbeeldings van granate. Die tweede pilaar het presies net so gelyk.

23. Aan die kante was daar 96 granate en as die in die vlegwerk bo bygetel word, in totaal 100 granate.

24. Nebusaradan het vir Seraja, die hoëpriester, asook Sefanja, wat naas hom die belangrikste priester was, gevang en saam met hom gevat. Hy het ook drie van die wagte gevang wat die ingange van die tempel opgepas het.

25. Party van die mense het in Jerusalem probeer wegkruip. Van hierdie mense het Nebusaradan ’n offisier van die Judese leër en sewe van die koning se raadgewers gevang. Dan het hy ook nog die sekretaris van die offisier wat daarvoor verantwoordelik was om soldate vir die leër te werf gevange geneem. Laastens het hy 60 mense uit die platteland wat in Jerusalem was, gevang en met hom saamgevat.

26. Nebusaradan het al hierdie mense na koning Nebukadnesar in Ribla gebring.