Die Boodskap

1 Johannes 2:7-22 Die Boodskap (DB)

7. My geliefde vriende, dit is nie ’n klomp nuwe dinge wat ek nou skielik van julle vra nie. Dit gaan oor die ou, bekende dinge wat God van sy kinders verwag. Vandat julle die boodskap gehoor en Christene geword het, ken julle dit mos al.

8. Maar wat ek wel doen, is om julle weer aan die vars en nuwe kant van God se wil te herinner. Die nuutheid en egtheid daarvan sien julle in Jesus, soos ook in julleself, die gelowiges.

9. Kyk mooi! God se ware lig skyn reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is vinnig aan die verdwyn.

10. Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só:

11. die persoon wat niks omgee vir sy medemens nie - al is sy woorde hoe godsdienstig en vroom - leef steeds in die duisternis. Hy is soos iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie. Omdat dit so donker is, loop hy soos ’n blinde man rond. Daarteenoor leef die persoon wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig. Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie.

12. Liewe kinders, ek herinner julle weer daaraan: vir God bestaan julle sondes eenvoudig nie meer nie. Daarvoor het Jesus gesorg.

13. Pa’s, julle ken Hom wat alles begin het goed. Daarom is hierdie brief vir julle. Die jongmense kan ook lees wat ek skryf, want hulle het die Bose behoorlik op die neus laat kyk.

14. Ek het vir julle my hand op papier gesit, kinders, omdat julle die Vader persoonlik ken; en pa’s, omdat julle Hom ken wat die oorsprong van alles is. Jongmense, ek het vir julle geskryf omdat julle innerlik so sterk is. Julle seëvier altyd in die stryd teen Satan. Boonop straal God se boodskap uit alles wat julle doen.

15. Moenie na die pype van hierdie wêreld dans nie. Moenie lief word vir die dinge wat vir die wêreld belangrik is nie. As iemand dit doen, kan hy mos nie sê dat hy lojaal teenoor die Vader is nie.

16. Met wêreldse dinge bedoel ek dít: dit is begeertes wat deur menslike en wêreldse belange aangeblaas word sonder om met God rekening te hou; dit is om alles wat jou oë sien vir jouself te wil hê, en dit is om heeltyd net met jouself en dit wat jy het te spog.Dié dinge kom nie van die Vader af nie. Dit borrel op uit die fontein van die wêreld.Maar onthou dit: die aardse dinge is net tydelik. Daarom is al die begeertes daarna ook maar net ’n gejaag na wind.

17. Maar die persoon wat doen wat God vra se pad loop saam met God die ewigheid in.

18. My liewe kinders, die tyd na die einde toe begin nou min word. Julle het mos gehoor dat die antichris aan die kom is. Dit is die een wat dink hy kan Christus se plek inneem. Kyk ’n bietjie rond, daar is sommer baie sulke opponente van Christus wat skielik oral opduik. Daarom weet ons dat die tyd na die einde toe vinnig nader kom.

19. Hierdie klomp mense was tot saam met ons in die gemeente, maar hulle hart was nooit by ons nie. Daar is ’n rede waarom ek so sê: as hulle regtig hart en siel deel van ons gemeente was, sou hulle hart en siel agter die gemeente bly staan het. Hulle sou nie sommer die gemeente die rug toegekeer het nie. Maar ook daarmee is daar ’n doel: almal kan nou self sien dat hulle nie deel van ons gemeente is nie. Julle verskil van hierdie mense.

20. Die Heilige Gees het sy hand spesiaal op julle gelê. Julle almal weet daarom wat vir God reg en verkeerd is.

21. As ek dié brief skryf, wil ek dus nie maak asof julle nie weet wat waar is nie. Ek beklemtoon net wat julle reeds weet waar en eg is. Onthou, geen enkele leuen kan uit die waarheid gebore word nie.

22. Wie dink julle gee geboorte aan leuens? Dit is natuurlik enigiemand wat weier om toe te gee dat Jesus, as mens, werklik die Messias is. So ’n persoon verwerp sowel die Vader as die Seun. Hy is die antichris!