Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 18:6-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Maar Jósafat sê: Is hier nie nog ’n profeet van die Here, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?

7. En die koning van Israel antwoord Jósafat: Daar is nog een man om die Here deur hom te raadpleeg; maar ék haat hom, want hy profeteer oor my niks goeds nie, maar altyd onheil; dit is Miga, die seun van Jimla. En Jósafat sê: Die koning moet nie so spreek nie!

8. Daarop roep die koning van Israel ’n hofdienaar en sê: Gaan haal gou vir Miga, die seun van Jimla.

9. Onderwyl die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, elkeen op sy troon sit, beklee met koninklike klere, en hulle op ’n dorsvloer sit by die ingang van die poort van Samaría, en al die profete voor hulle profeteer,

10. het Sedekía, die seun van Kenáäna, vir hom ysterhorings gemaak en gesê: So spreek die Here: Hiermee sal u die Arameërs stoot totdat hulle vernietig is.

11. En so het al die profete geprofeteer en gesê: Trek op na Ramot in Gílead en u sal voorspoedig wees, en die Here sal dit in die hand van die koning gee.

12. Toe sê die boodskapper wat gegaan het om Miga te roep, vir hom dít: Kyk, die woorde van die profete is uit een mond goed vir die koning: laat jou woord nou tog wees soos die van een van hulle, en spreek goeie dinge.

13. Maar Miga sê: So waar as die Here leef, wat God my sal sê, dit sal ek spreek!

14. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hy antwoord: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en hulle sal in julle hand gegee word.

15. En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die Here tot my moet spreek nie?