Die Boodskap

Levitikus 27:13-26 Die Boodskap (DB)

13. As die persoon wat die belofte gemaak het, die dier vir homself wil terugkoop, moet hy nog ’n vyfde byvoeg by die bedrag wat die dienaar gesê het.”

14. “Wanneer iemand belowe het om sy huis vir die Here te gee, moet die dienaar van die tent af kom en die afkoopwaarde kom bepaal. Of hy dit oor- of onderwaardeer, is nie ter sake nie. Die bedrag wat hy vasgestel het, staan vas.

15. As die persoon wat die huis aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde bysit by die bedrag wat bepaal is. Die huis sal dan weer aan hom behoort.”

16. “Iemand kon beloof het om van sy erfgrond, ’n stuk land waarop geplant en geoes kan word, aan die Here af te staan. Die afkoopwaarde daarvan moet dan bepaal word volgens die saad wat gewoonlik daarop gesaai kan word. Vir elke 100 kilogram saad word 50 stukke bereken.

17. Indien hy sy saailand tydens die hersteljaar vir die Here beloof het, bly die volle bedrag net so staan.

18. Indien dit eers na die hersteljaar is dat iemand sy land vir die Here gee, moet die dienaar van die Here die bedrag minder maak volgens die aantal jare wat nog oor is tot die volgende hersteljaar.

19. As die persoon wat die grond aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde byvoeg by die waarde wat die grond op daardie stadium het. Die grond word dan weer sy eiendom.

20. As hy nie die grond afkoop nie, of die Here se werker verkoop dit aan iemand anders, mag dit nie weer afgekoop word nie.

21. In die hersteljaar sal die grond egter nie vrykom nie. Dit behoort heeltemal aan die Here soos die banoffers, wat uitsluitlik aan Hom toegewy is. Dit word deel van die Here se eiendom.

22-23. Indien iemand ’n saailand aan die Here afstaan wat hy aangekoop het en wat nie deel van sy erfgrond was nie, moet die dienaar by die tent die afkoopwaarde daarvan bepaal volgens die jare wat daar nog oor is tot die volgende hersteljaar. Die persoon betaal daar en dan die bedrag wat bepaal is aan die personeel by die Here se tent oor.

24. In die hersteljaar word die grond teruggegee aan die oorspronklike eienaar. Dit was sy erfgrond.

25. Al hierdie berekenings moet volgens die bepalings van die dienaars by die Here se tent gedoen word.”

26. “Die eerste kalf van ’n koei en die eerste lam van ’n bok of ’n skaap wat gebore word, behoort volgens die reëls alreeds aan die Here. ’n Mens kan nie nog verder een van hulle aan die Here beloof nie, want dit is alreeds Syne.