Die Boodskap

Deuteronomium 22:2-7 Die Boodskap (DB)

2. As dit nie aan iemand behoort wat in jou omgewing bly nie, of as jy nie weet wie se dier dit is nie, vat dan die dier na jou huis toe. Dit sal veiliger by jou wees. Hou dit daar en versorg dit tot die eienaar daar opdaag om na sy dier te soek. Gee dit dan vir hom.

3. Maak ook so as jy iemand se donkie kry, of sy klere of enigiets wat aan iemand anders behoort wat hulle verloor het. Moenie maak of jy dit nie sien nie.

4. “Sê nou jy sien iemand se os of donkie het inmekaargesak omdat hulle moeg is van al die goed wat hulle moet dra. Moenie maak of jy dit nie sien nie. Staan eerder nader en help die man om die dier weer op sy pote te kry.

5. “’n Vrou mag nie klere dra wat mans normaalweg dra nie. Net so moet ’n man ook nie klere dra wat vroue gewoonlik dra nie. Mense wat so iets doen, is walglik vir die Here jou God.

6. “Dalk kry jy ’n voëltjie se nes wat op die grond lê, of jy kry ’n nes in die boom. In die nes is daar klein voëltjies of eiertjies terwyl die ma nog op die nes sit. Dan mag jy nie die ma saam met die kleintjies vir jou vat nie.

7. Nee, los die ma en laat haar vlieg as jy die kleintjies vir jou wil vat. As jy so maak, sal dit met jou goed gaan en sal jy ’n lang lewe geniet.