Die Boodskap

Deuteronomium 22:18-26 Die Boodskap (DB)

18. Die regters moet dan hierdie man straf. Hy moet ’n goeie loesing met ’n sweep kry.

19. Hulle moet hom ook ’n boete laat betaal. Hy moet ’n kilogram silwer betaal omdat hy sy vrou valslik daarvan beskuldig het dat sy by ander mans geslaap het. Die geld wat hy betaal, moet na die vrou se pa gaan. Die vrou bly dan met haar man getroud. Hy mag nooit van haar skei nie.

20. “Maar sê nou haar man het sulke beskuldigings gemaak, en dit is waar. Sy het by ander mans geslaap voor sy getrou het.

21. In sulke gevalle moet die regters saam met die vrou na haar pa se huis toe gaan. Hulle moet by haar pa se huis se deur gaan staan. Dan moet die mans van die stad haar met klippe doodgooi. Sy het iets baie slegs gedoen deur by ander mans te slaap terwyl sy nog ongetroud was. Sulke slegte dinge moet julle nie tussen julle duld nie.

22. “As ’n man by ’n ander vrou slaap terwyl hy getroud is, moet hy en die ander man se vrou, die vrou by wie hy geslaap het, doodgemaak word. Op hierdie manier sal julle die slegte dinge tussen julle uitgeroei kry.

23. “Sê nou maar ’n man ontmoet ’n jongmeisie wat nog nooit voorheen getroud was nie. Sy is verloof aan ’n ander man. En sê nou dit gebeur dat hierdie man by dié jongmeisie slaap. As dit in ’n stad of dorp gebeur,

24. moet julle hulle albei na die uitgang van die stad vat. Dan moet julle hulle met klippe doodgooi. Die vrou is ook skuldig, want sy het nie geskree sodat iemand haar kon kom help terwyl die man by haar was nie. Die man moet doodgemaak word omdat hy by ’n vrou geslaap het wat met iemand anders sou trou. As jy só maak, sal jy keer dat slegte dinge in jou land gebeur.

25. “Sê nou die man ontmoet die verloofde jongmeisie buite die stad, êrens in die veld. Hy gryp haar en verkrag haar. Dan moet net die man doodgemaak word.

26. Julle moet niks aan die vrou doen nie. Sy het niks gedoen wat sleg is nie. Haar geval is dieselfde as wanneer iemand ’n moord pleeg waar niemand hom sien nie.