Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 29:12-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Die Leviete het hulle toe klaargemaak: Mahat, die seun van Amásai, en Joël, die seun van Asárja, uit die kinders van die Kehatiete; en uit die kinders van Merári: Kis, die seun van Abdi, en Asárja, die seun van Jehállelel; en uit die Gersoniete: Joag, die seun van Simma, en Eden, die seun van Joag;

13. en uit die kinders van Elísafan: Simri en Jeï-el; en uit die kinders van Asaf: Sagaría en Mattánja;

14. en uit die kinders van Heman: Jéhiël en Símeï; en uit die kinders van Jedútun: Semája en Ússiël.

15. En hulle het hul broers versamel en hulle geheilig en ingekom om volgens die bevel van die koning, ooreenkomstig die woorde van die Here, die huis van die Here te reinig.

16. En die priesters het binne-in die huis van die Here ingegaan om dit te reinig en al die onreinheid wat hulle in die tempel van die Here gevind het, uitgebring in die voorhof van die huis van die Here, en die Leviete het dit in ontvangs geneem om dit uit te bring na buite, na die spruit Kidron.

17. En hulle het begin om te heilig op die eerste van die eerste maand en op die agtste dag van die maand by die voorportaal van die Here gekom en die huis van die Here binne agt dae geheilig; en op die sestiende dag van die eerste maand was hulle gereed.

18. Toe kom hulle by koning Hiskía in en sê: Ons het die hele huis van die Here gereinig — die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die tafel vir die toonbrode met al sy gereedskap;

19. ook al die gereedskap wat koning Agas tydens sy regering deur sy ontrou ontheilig het, het ons weer reggesit en geheilig, en kyk, daar is dit voor die altaar van die Here.

20. Daarop maak koning Jehiskía hom vroeg klaar en laat die owerstes van die stad bymekaarkom, en hy het opgegaan na die huis van die Here.

21. En hulle het sewe bulle en sewe ramme en sewe lammers en sewe bokke as ’n sondoffer vir die koningskap en vir die heiligdom en vir Juda gebring; en hy het aan die seuns van Aäron, die priesters, gesê om dit op die altaar van die Here te offer.

22. Toe het hulle die beeste geslag, en die priesters het die bloed opgevang en dit teen die altaar uitgegooi, en die ramme geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi, en die lammers geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi.

23. Daarna het hulle die sondofferbokke nader gebring voor die koning en die vergadering, en hulle het hul hande daarop gelê.

24. En die priesters het hulle geslag en die bloed daarvan as sondoffer teen die altaar uitgegooi om versoening te doen vir die hele Israel; want die koning het die brandoffer en die sondoffer vir die hele Israel beveel.

25. En hy het die Leviete opgestel by die huis van die Here met simbale, met harpe en siters volgens die gebod van Dawid en van Gad, die siener van die koning, en van die profeet Natan; want die Here het dit so beveel deur die diens van sy profete.

26. En die Leviete het gaan staan met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.

27. En Hiskía het bevel gegee om die brandoffer op die altaar te offer; en net toe die brandoffer begin, het ook die gesang tot eer van die Here en die trompette begin, en dit onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel.