Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 26:15-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Ook het hy in Jerusalem oorlogswerktuie gemaak, ’n uitvinding van ’n kunstenaar, wat op die torings en op die hoeke moes staan om met pyle en groot klippe te skiet; en sy roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het.

16. Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die Here sy God; want hy het in die tempel van die Here gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar.

17. Maar die priester Asárja het hom gevolg en tagtig priesters van die Here, flukse manne, saam met hom,

18. en teen koning Ussía opgetree en aan hom gesê: Dit kom u nie toe, Ussía, om vir die Here offerrook te laat opgaan nie, maar aan die priesters, seuns van Aäron, wat geheilig is om te offer. Gaan uit die heiligdom uit, want u het ontrou gehandel, en dit sal u van die kant van die Here God nie tot eer strek nie.

19. Maar Ussía het woedend geword; en terwyl hy, met die wierookpan in sy hand, woedend was op die priesters, slaan die melaatsheid op sy voorhoof uit voor die oë van die priesters, in die huis van die Here langs die reukaltaar.

20. Toe Asárja, die hoofpriester, en al die priesters na hom kyk en sien dat hy melaats was aan sy voorhoof, het hulle hom gou daarvandaan weggedrywe, en hy het ook self gou gemaak om weg te kom, want die Here het hom aangetas.

21. En koning Ussía was melaats tot die dag van sy dood toe, en hy het in ’n afgesonderde huis as melaatse gewoon, want hy was van die huis van die Here uitgesluit; en sy seun Jotam, wat oor die paleis van die koning was, het die volk van die land geregeer.

22. En die verdere geskiedenis van Ussía, die vroeëre en die latere, het die profeet Jesaja, die seun van Amos, beskrywe.

23. En Ussía het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe by sy vaders op die begraafplaas van die konings; want hulle het gesê: Hy is melaats. En sy seun Jotam het in sy plek koning geword.