Die Boodskap

Spreuke 12:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Gelowiges dink heeltyd hoe om reg te lewe. Ongelowiges se raad is baie gevaarlik.

6. Goddelose mense se woorde probeer jou in ’n lokval lei. Dit wil jou seermaak. Maar gelowiges se insig in die lewe bevry jou van al hierdie strikke.

7. Ongelowiges gaan dood en dit is verby met hulle. Maar ’n gelowige se lewe het groot betekenis.

8. ’n Mens word aan sy manier van lewe gemeet. Slimheid word aan ’n mooi manier van lewe gesien. Domkoppe weet nie hoe om reg te leef nie. Mense verag hulle.

9. Dis beter om eenvoudig te leef as om vrot van die skuld te wees. Dis beter om ’n meer beskeie huis te hê as ’n ryk lewenstyl en heeltyd honger te wees.

10. ’n Gelowige is lief vir sy diere. Hy behandel hulle altyd goed. Ongelowiges is ongenaakbaar. Hulle sny diere sommer maklik keelaf.

11. Hy wat hard werk, sal genoeg kos hê om te eet. Hy wat rondstaan en gesels of met ander dinge besig is, is dom. Hy sal finansieel sukkel.

12. ’n Slegte mens wil graag sy bose planne uitvoer. Hy wil mense op verskillende maniere seermaak. Geen probleme kry ’n gelowige onder nie.

13. ’n Ongelowige praat hom maklik vas. Sy eie woorde is soos ’n net wat hom vasvang. ’n Gelowige se woorde red hom uit moeilike situasies.

14. ’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens.

15. Dit is net ’n dom mens wat dink dat hy alleen reg is, wat dink dat hy alleen oor die waarheid beskik. ’n Wyse mens luister graag na ander se raad.