Romeine

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Die Boodskap

Romeine 2 Die Boodskap (DB)

God tree reg op

1. Al hierdie mense is op pad na die doderyk. Maar dit gee jou natuurlik nie die reg om links en regs oor ander te oordeel nie. Op die ou end is jy net so skuldig soos hulle. Jy wat so maklik die vinger na ander mense wys, doen jy nie maar presies dieselfde dinge as hulle nie?

2. God weet wat ons almal doen. Omdat Hy die ware feite tot sy beskikking het, sal Hy eendag die regte uitspraak oor ons almal lewer.

3. Ek sê weer: jy moet baie versigtig wees om nie die vinger na ander mense te wys terwyl jy dieselfde dinge as hulle aanvang nie. Jy sal God se oordeel glad nie vryspring nie.

4. God is baie goed vir ons. Hy is geduldig met ons swakhede. Maar dit beteken glad nie dat Hy jou sondes oorsien omdat Hy so goed is vir jou nie. God is net geduldig met jou omdat Hy wil hê dat jy jou tot Hom moet bekeer.

5. Maar as jy aanhou om in die sonde rond te lê, moet jy geen genade van Hom verwag nie. Hy weet baie goed hoe jy lewe. Jou sondes is teen dié tyd al hemelhoog opgestapel. Dag na dag word dit net meer. Wanneer die groot dag van God aanbreek - daardie dag wanneer Hy sy woede oor die sondes van die wêreld sigbaar kom wys en sy uitspraak oor ons almal kom lewer - sal Hy jou daaroor straf. God se oordeel sal absoluut regverdig wees. Hy kyk na elke ding wat ons doen.

6. Op grond van ons dade sal God dan besluit waar ons die ewigheid gaan deurbring.

7. Die ewige lewe wag op almal wat goed doen en wat aan Hom die eer gee. Mense wat hulle uiterste bes doen om God te gehoorsaam, sál die ewige lewe as ’n geskenk uit sy hand ontvang.

8. Aan die ander kant: mense wat net vir hulleself leef en hulle glad nie aan God steur nie omdat hulle agter elke nuwe sonde aanhardloop, moet niks goeds verwag nie. Vir hulle wag daar net oordeel en straf.

9. Daar lê ’n bitter moeilike tyd voor vir elkeen wat in sonde leef. Dit geld vir alle mense op aarde, Jode sowel as nie-Jode.

10. Aan die ander kant wag daar ’n wonderlike tyd van vrede op almal wat doen wat God vra. Hy sal hulle met groot eer beklee. Dit geld ook vir alle mense, Jode sowel as nie-Jode.

11. Mense se afkoms maak regtig nie vir God saak wanneer Hy oordeel nie. Hy trek niemand voor nie.

12. As jy God se wet oortree, is die doderyk jou voorland. Uit en gedaan. Dit help nie om te sê dat jy nie aan Israel behoort nie en dat jy nie God se wet ken nie. Hy sal jou ook straf as jy teen sy wil leef. As jy egter aan die volk van Israel behoort en teen God sondig, sal Hy jou veroordeel volgens alles wat in die wet geskryf staan.

13. Moenie dink dat God mense van hulle sondes vryspreek bloot net omdat hulle gereeld na die wet luister nie. Nee, Hy spreek net daardie mense vry wat alles doen wat die wet sê.

14. Mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie, is natuurlik nie so gelukkig om God se wet op skrif te hê nie. Wanneer hulle egter doen wat God in sy wet vra, wys hulle mos dat die wet vir almal op aarde geld.

15. Mense het nie altyd ’n wet op papier nodig om te weet wat reg is in God se oë nie. God het dit wat in die wet staan ook in die binneste neergeskryf van mense wat nie aan Israel behoort nie. Daarom worstel hulle ook gedurig in hulle binneste met die groot vraag oor wat reg en verkeerd is.

16. Op die laaste dag wanneer God sy finale uitspraak gee oor die diepste geheime in ons elkeen se lewe, sal almal kan sien dat hierdie mense ook gedoen het wat Hy vra. Hierdie goeie nuus wat ek met julle deel, het ek van Christus Jesus ontvang.

Dit help nie om al jou hoop op die wet te sit nie

17. Jy spog so graag oor jou Joodse afkoms en jou wet. Jy vertel vir almal dat God jou God is en dat jy sy wil ken.

18. Boonop maak jy asof jy presies weet wat reg en verkeerd is omdat jy die wet op die punte van jou vingers ken.

19. Omdat jy so danig belangrik is in jou eie oë, het jy jouself aangestel om mense wat nog in die donker rondlê na die lig toe te lei. Jy dink dat jy net die regte een is om die blindes na God toe te bring.

20. Jy beskou jouself as die groot leermeester van almal wat niks weet nie, as die onderwyser van almal wat nog maar kinders in die geloof is. Jy dink dat jy al die kennis en waarheid in pag het.

21. Maar ek wil jou ’n vraag vra. Jy wat so vinnig is om ander mense te leer hoe hulle moet leef, hoekom doen jy nie ’n slag wat jy leer nie? Jy preek graag vir ander dat hulle nie mag steel nie. Maar wat van jou? Steel jy nie?

22. Jy sê dat ’n mens nie ontrou aan jou huweliksmaat mag wees nie. Wat van jou? Maak jy jou nie skuldig aan ongeoorloofde seksuele verhoudings nie? Jy vertel hoe jy die afgode haat. Maar intussen leef jy net soos daardie spul wat hierdie afgode aanbid.

23. Jy spog graag oor jou groot kennis van die wet. Tog oortree jy dit. So maak jy ’n bespotting van God se goeie Naam.

24. Dit is oor mense soos jy dat die profeet geskryf het: “Julle sondes maak dat ongelowiges allerhande lasterlike dinge oor God sê.”

25. Jy sê dat jy die merkteken van die besnydenis aan jou liggaam dra. Natuurlik is dit belangrik, maar dan net as jy álles doen wat die wet van jou vra. As jy aan die wet ongehoorsaam is, kon jy maar net sowel nie besny gewees het nie.

26. Die omgekeerde is ook waar: wanneer mense wat nie besny is nie, doen wat God in sy wet vra, is hulle in sy oë besny.

27. Op die ou end gaan hierdie mense wat nie besny is nie nog oor jou oordeel, want met jou wet en jou besnydenis doen jy steeds nie wat God se wet vra nie.

28. Verstaan jy dan nie dat daardie teken aan jou lyf nog nie van jou ’n ware Israeliet maak nie?

29. ’n Ware Jood is iemand wie se lewe van binne af verander het. Dit is iemand wie se hart deur God besny is. Jy is nie ’n Jood bloot omdat jy die regte afkoms het nie. Glad nie. Leef daarom so dat God trots sal wees op jou.