Die Boodskap

Openbaring 22:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Hy sê verder vir my: “Moenie hierdie boek met die boodskap van God geheim hou of iewers wegsteek nie. Die tyd dat dit alles moet gebeur, is voor die deur.

11. Laat die een wat verkeerde dinge doen, maar daarmee aanhou. Die een wat walglik wil wees, moet dit maar wees. Die een wat reg leef, moet so aanhou en die een wat net vir God wil leef, moet so bly leef.”

12. “Kyk, Ek is op pad, Ek kom gou,” sê Christus. “My lys van wie beloon moet word, bring Ek saam. Ek sal elkeen gee wat hy volgens sy optrede verdien.

13. Ek is die Een by wie alles begin en by wie alles ook eindig; die Eerste en die Laaste. Niks bestaan of gebeur buite My om nie.

14. “Hoe gelukkig is die mense wat hulle klere skoon was sodat hulle reg is vir God se groot fees! Hulle sal reguit deur die poorte van die stad kan instap. Die boom wat aan mense lewe gee, sal hulle s’n wees.

15. Mense wat vieslik geleef het, hulle met allerhande geeste en toordery opgehou het, sal buite moet bly. In God se stad is daar nie plek vir hulle nie. Dit geld ook vir die onsedelike mense en mense wat allerhande ander dinge behalwe die ware God aanbid het. Ja, die mense wat hulle rug vir die waarheid gedraai het en van leuens leef, sal nie die binnekant van God se stad sien nie.

16. “Ek, Jesus, het ’n engel as boodskapper gestuur om al hierdie dinge aan die gemeentes van God te vertel. Ek is ’n afstammeling van Dawid; uit sy geslag is Ek gebore. Ek is soos die helder ster wat die nuwe dag aankondig.”

17. Die Gees asook die bruid sê: “Kom!” Wie hierdie woorde hoor, moet ook sê: “Kom!” Laat die een wat geestelik dors het, kom. Enigeen wat graag wil, kan die water wat ’n mens vir ewig laat leef, verniet kom kry.

18. En nou ’n waarskuwing: dit gaan aan almal wat die boodskap van hierdie boek hoor. Ek waarsku die persoon wat enigiets by hierdie boodskap bysit. God sal hom met al die plae en slegte dinge tref waarvan daar in hierdie boek vertel word.