Die Boodskap

Josua 18:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Die Leviete kry nie enige grond nie, want die Here het hulle die voorreg gegee om priesters in sy diens te wees. Wat Gad, Ruben en die halwe Manassestam betref, hulle het reeds hulle gedeelte aan die oostekant van die Jordaan gekry toe Moses die dienaar van die Here nog geleef het.”

8. Die groep het hulle toe gereedgemaak om die land te gaan opmeet nadat Josua aan hulle die volgende opdragte gegee het: “Gaan die hele gebied deur en bepaal die grense noukeurig, kom dan terug hier na my toe sodat ek hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here ’n verdeling kan maak.”

9. Die groep is toe daar weg. Hulle het die gebied in sewe dele op hulle kaart verdeel en ook al die dorpe in elke gebied opgeskryf. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo.

10. Daar het Josua toe die land onder die oorblywende stamme, in die teenwoordigheid van die Here, verdeel.

11. Die eerste stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Benjamin. Dit was die gebied tussen die gedeeltes van Juda en Josef.

12. Hulle noordelike grens het by die Jordaan begin en loop dan al met die hang noord van Jerigo langs. Dan draai dit weswaarts oor die bergagtige gebied tot in die Bet-Awenwoestyn.

13. Van daar af loop die grens suid na Lus toe (ook bekend as Bet-El) en dan af na Atrot-Addar toe op die berg suid van Bet-Goron-Onder.

14. Dan draai die grens in ’n westelike rigting, suid van die berg reg teenoor Bet-Goron totdat dit doodloop by Kirjat-Baäl, ook bekend as Kirjat-Jearim. Hierdie stad het aan Juda behoort. Dit is die westelike grens.

15. Die suidelike grens van Benjamin het by Kirjat-Jearim begin, van waar dit weswaarts afgeloop het in die rigting van Neftoag se waterbronne.

16. Dan af na die voet van die berg wat uitkyk oor die vallei van Ben-Hinnom aan die noordekant van die vallei van Refaïm. Van daar af gaan dit af met die Hinnomvallei tot teen die hang suid van die stad van die Jebusiete tot by En-Rogel.

17. Hier draai die grens weer noord in die rigting van En-Semes totdat dit uitkom by Gelilot, regoor die pas van Adummim. Hiervandaan gaan dit af in die rigting van die gedenkklip van Bohan die seun van Ruben.

18. Dan loop die grens noord van die hang wat oor die Jordaanvallei uitkyk verby en dan af in die Jordaanvallei,