Die Boodskap

Jeremia 52:24-34 Die Boodskap (DB)

24. Nebusaradan het vir Seraja, die hoëpriester, asook Sefanja, wat naas hom die belangrikste priester was, gevang en saam met hom gevat. Hy het ook drie van die wagte gevang wat die ingange van die tempel opgepas het.

25. Party van die mense het in Jerusalem probeer wegkruip. Van hierdie mense het Nebusaradan ’n offisier van die Judese leër en sewe van die koning se raadgewers gevang. Dan het hy ook nog die sekretaris van die offisier wat daarvoor verantwoordelik was om soldate vir die leër te werf gevange geneem. Laastens het hy 60 mense uit die platteland wat in Jerusalem was, gevang en met hom saamgevat.

26. Nebusaradan het al hierdie mense na koning Nebukadnesar in Ribla gebring.

27. Die koning van Babel het hulle almal daar in Ribla in die Hamatgebied laat doodmaak. So is die mense van Juda gevange geneem. Hulle is uit hulle land weggevat en na ’n vreemde land gebring.

28. In totaal was die aantal mense wat as gevangenes na Babel weggevat is, die volgende: 3 023 Jode in die sewende jaar dat Nebukadnesar koning was.

29. In Nebukadnesar se agtiende jaar as koning het hy nog 832 mense uit Jerusalem weggevat.

30. In sy 23ste jaar as koning het hy Nebusaradan, die hoof van sy lyfwag, na Juda gestuur. Hy het nog 745 mense weggevat. In totaal is 4 600 mense gevange geneem.

31. In die 37ste jaar dat koning Jojagin ’n gevangene in Babel was, het Ewil-Merodak die nuwe koning in Babel geword. Hy was Jojagin goedgesind en het hom uit die tronk laat kom. Dit het gebeur op die 31ste Maart 561 v.C.

32. Ewil-Merodak het baie vriendelik met koning Jojagin gepraat. Hy het Jojagin beter behandel as al die ander konings wat in Babel gevange gehou is.

33. Jojagin hoef ook nie meer sy tronkklere te gedra het nie. Hy is ook toegelaat om vir die res van sy lewe saam met die koning te eet.

34. Die koning van Babel het ook vir Jojagin ’n gereelde toelaag gegee. Dit was om hom te help om te betaal vir wat hy elke dag nodig gehad het. Hy sou dit kry so lank as wat hy leef.