Die Boodskap

Jeremia 39:1-9 Die Boodskap (DB)

1. In Januarie van die negende jaar wat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar en sy leër teruggekom en Jerusalem omsingel.

2. Twee en ’n half jaar later, op die agtiende Julie, het die Babiloniërs dit reggekry om ’n gat in die muur te breek.

3. Al die offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die hek in die middel gaan sit. Onder hierdie offisiere was Nergal-Saresar, wat van Sinmagir af kom, en Sarsekim, ’n hoofoffisier. Verder ook Nebu-Sarsekim, die aanvoerder van die leër en nog baie ander belangrike offisiere.

4. Toe koning Sedekia en sy soldate die Babiloniërs by die stadsingang sien, het hulle gevlug toe dit donker word. Hulle het deur die koning se tuin beweeg en by die hek tussen die twee mure uit die stad uitgegaan. Daarvandaan het hulle in die rigting van die Jordaanvallei gegaan.

5. Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg en Sedekia op die vlakte by Jerigo ingehaal. Hulle het Sedekia gevang en hom na Nebukadnesar, koning van Babel, toe gebring. Nebukadnesar was in Ribla in die Hamatgebied. Daar het hy vir Sedekia gesê hoe hy hom gaan straf.

6. Daar in Ribla het die koning van Babel Sedekia se seuns voor sy oë doodgemaak. Hy het ook die leiers van Juda daar laat doodmaak.

7. Daarna het hy Sedekia se oë uitgesteek en hom met kettings geboei. Toe het hy hom weggevat Babel toe.

8. Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise in Jerusalem aan die brand gesteek. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.

9. Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in Jerusalem oorgebly het, weggevat uit hulle land na Babel toe. Hy het saam met hulle ook die mense weggevat wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. So ook die res van die mense van Juda.