Die Boodskap

Deuteronomium 22:5-13 Die Boodskap (DB)

5. “’n Vrou mag nie klere dra wat mans normaalweg dra nie. Net so moet ’n man ook nie klere dra wat vroue gewoonlik dra nie. Mense wat so iets doen, is walglik vir die Here jou God.

6. “Dalk kry jy ’n voëltjie se nes wat op die grond lê, of jy kry ’n nes in die boom. In die nes is daar klein voëltjies of eiertjies terwyl die ma nog op die nes sit. Dan mag jy nie die ma saam met die kleintjies vir jou vat nie.

7. Nee, los die ma en laat haar vlieg as jy die kleintjies vir jou wil vat. As jy so maak, sal dit met jou goed gaan en sal jy ’n lang lewe geniet.

8. “As jy ’n nuwe huis bou met ’n plat dak, en jy beplan dat julle op die dak gaan kuier, moet jy dadelik ’n reling rondom die dak laat aansit. Anders kan iemand van die dak afval en so seerkry dat hy doodgaan. Dan is jy vir daardie mens se dood verantwoordelik.

9. “Jy mag nie ander gewasse tussen jou rye druiwe plant nie. As jy so maak, mag jy nie die druiwe of die ander gewas wat jy geplant het, self gebruik nie. Nee, jy moet dan al die vrugte vir die huis van die Here gee.

10. “Moenie ’n bees en ’n donkie saam voor ’n ploeg inspan nie omdat hulle nie gelyk trek nie. Albei gaan seerkry.

11. “Moenie klere dra wat van sowel wol as linne gemaak is nie.

12. “Werk klossies aan die hoeke van jou klere vas.”

13. “Sê nou ’n man trou met ’n vrou. Nadat hy by haar geslaap het, besluit hy dat hy nie meer lief is vir haar nie.