Die Boodskap

Deuteronomium 22:23-30 Die Boodskap (DB)

23. “Sê nou maar ’n man ontmoet ’n jongmeisie wat nog nooit voorheen getroud was nie. Sy is verloof aan ’n ander man. En sê nou dit gebeur dat hierdie man by dié jongmeisie slaap. As dit in ’n stad of dorp gebeur,

24. moet julle hulle albei na die uitgang van die stad vat. Dan moet julle hulle met klippe doodgooi. Die vrou is ook skuldig, want sy het nie geskree sodat iemand haar kon kom help terwyl die man by haar was nie. Die man moet doodgemaak word omdat hy by ’n vrou geslaap het wat met iemand anders sou trou. As jy só maak, sal jy keer dat slegte dinge in jou land gebeur.

25. “Sê nou die man ontmoet die verloofde jongmeisie buite die stad, êrens in die veld. Hy gryp haar en verkrag haar. Dan moet net die man doodgemaak word.

26. Julle moet niks aan die vrou doen nie. Sy het niks gedoen wat sleg is nie. Haar geval is dieselfde as wanneer iemand ’n moord pleeg waar niemand hom sien nie.

27. Die man het die meisie buite in die veld gegryp. Sy het sekerlik om hulp geroep, maar niemand kon haar hoor nie. Daarom het niemand haar gehelp nie.

28. “Sê nou jy betrap ’n man wat ’n jongmeisie verkrag wat nog nie by ’n man geslaap het nie en wat nie aan enige man verloof is nie.

29. Dan moet jy hierdie man met ’n halwe kilogram silwer beboet. Hy moet die geld vir die meisie se pa gee. En hy moet met hierdie jongmeisie trou, want hy het haar eer weggeneem. Hy mag ook nooit van haar skei nie.

30. “Niemand mag by sy pa se vrou slaap nie. As hy so iets doen, neem hy sy pa se eer weg.”