Die Boodskap

2 Samuel 19:20-40 Die Boodskap (DB)

20. Ek weet ek het ’n vreeslike fout gemaak, maar vandag is ek van al die mense in die Noorde eerste hier om U Majesteit te verwelkom.”

21. Abisai, Seruja se seun, haak toe af en sê: “Maar moet Simeï nie doodgemaak word vir wat hy gedoen het nie? Hy het dan die Here se koning gevloek!”

22. Dawid antwoord toe: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Om die waarheid te sê, julle praat vandag teen my. Niemand in Israel sal vandag doodgemaak word nie. En dit sê ek omdat ek nou die koning van Israel is.”

23. Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het gesweer dat dit nie sal gebeur nie.

24. Mefiboset, Saul se kleinseun, het ook gegaan om die koning te verwelkom. Van die dag af dat die koning uit Jerusalem uit is tot op die dag dat hy weer veilig terug was, het Mefiboset nie sy voete gewas of geskeer of ander klere aangetrek nie.

25. Toe hy later in Jerusalem by die koning kom, het die koning vir hom gevra: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”

26. “U Majesteit,” het hy geantwoord, “omdat ek so swaar loop, het ek gedink ek sal ’n donkie laat opsaal waarmee ek kan ry en saam met U Majesteit gaan. Maar my werker het my in die steek gelaat.

27. Boonop het hy my sleggemaak by u. Maar U Majesteit is so verstandig soos ’n engel uit die hemel. Doen maar met my wat u wil.

28. U Majesteit kon my pa se hele familie doodgemaak het. In plaas daarvan het u my ’n plek gegee aan u tafel. Watter reg het ek dan om nou nóg ’n guns vir u te vra?”

29. “Ons hoef nie verder daaroor te praat nie,” het die koning gesê. “Ek reël nou dat jy en Siba die grond van Saul moet deel.”

30. Toe het Mefiboset geantwoord: “Ek is so bly dat U Majesteit veilig by die huis is, Siba kan maar alles kry.”

31. Barsillai, die man uit Gilead, het van Rogelim af gekom om die koning by die Jordaanrivier af te sien.

32. Hy was al 80. Dis hy wat vir die koning gesorg het toe die koning in Maganajim was. Hy kon dit doen, want hy was ’n skatryk man.

33. Die koning het vir Barsillai gesê: “Kom saam met my oor die rivier. Kom bly by my in Jerusalem, dan sorg ek vir jou.”

34. Maar Barsillai het geantwoord: “Ek weet nie hoe lank ek nog gaan leef nie. Dit sal nie ’n goeie ding wees as ek by U Majesteit in Jerusalem gaan bly nie.

35. Ek is nou 80 jaar oud. My smaak is daarmee heen: ek kan nie meer iets wat ek eet of drink, geniet nie. Ek kan ook nie meer mooi hoor as die sangers en sangeresse sing nie. Ek sal net vir U Majesteit ’n las wees.

36. Ek sal amper nie eers saam met U Majesteit oor die Jordaanrivier kom nie. Waarom moet u dan vir my soveel moeite doen?

37. Laat ek maar omdraai en in my eie dorp doodgaan waar my pa en ma begrawe lê. Hier is my seun Kimham. Hy kan maar saam met U Majesteit gaan. Doen maar vir hom wat u wil.”

38. Die koning het gesê: “Goed, Kimham gaan dan saam met my. Ek sal vir hom doen net wat jy vra. Ek sal enigiets vir jou doen.”

39. Al die mense het toe oor die Jordaanrivier gegaan. Die koning is ook oor nadat hy vir Barsillai omhels en hom alles wat goed is, toegewens het. Barsillai het teruggegaan huis toe.

40. Die koning is toe daarvandaan Gilgal toe. Kimham het saamgegaan.Al die manskappe van Juda en die helfte van die manskappe van Israel het die koning oor die rivier gehelp.