Die Boodskap

2 Kronieke 26:9-14 Die Boodskap (DB)

9. Ussia het torings in Jerusalem gebou by die Hoekpoort, die Valleipoort en by die hoek in die muur. Hy het die torings soos forte versterk.

10. Hy het ook forte in die woestyn gebou en baie waterputte uitgekap. Dit was nodig omdat hy groot kuddes vee in die heuwelland van Juda en op die vlaktes gehad het. Hy was lief vir boerdery en het baie mense gehad wat op sy plase en wingerde teen die heuwels en in die vrugbare valleie gewerk het.

11. Ussia se leër was goed georganiseerd en goed opgelei. Hulle was reg om enige tyd oorlog te maak, want hulle is in afdelings ingedeel deur die leërsekretaris, Jeïel, en die stafoffisier Maäseja. Hulle twee het onder die gesag gestaan van Ganaja, ’n amptenaar van die koning.

12. Die afdelings geoefende soldate het onder bevel van 2 600 familiehoofde gestaan.

13. Die leër het uit 307 500 uitgesoekte soldate bestaan. Die koning kon op hulle reken wanneer hy teen enige vyand moes veg.

14. Ussia het die leër uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en slingerklippe.