Die Boodskap

1 Konings 1:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Dawid het ingestem en hulle het oral na ’n mooi jongmeisie gesoek. Uiteindelik het hulle in Sunem se omgewing die regte een gekry. Haar naam was Abisag en hulle het haar reguit na die koning toe gevat.

4. Sy was werklik baie mooi. Sy het Dawid met alles gehelp en hom goed versorg. Hulle het egter nie seks gehad nie.

5. Na Absalom se dood was Adonia die oudste seun. Adonia is net na Absalom gebore. Hy was Dawid en Gaggit se kind en ’n baie aantreklike jongman.

6. Sy pa het egter nooit met hom geraas nie en hy het gedoen net wat hy wou. Adonia was ’n mooi jongman, maar baie ambisieus; hy wou graag koning word. Hy het toe vir hom ’n klomp strydwaens, perde en 50 lyfwagte gekry.

7. Hy het stilletjies met Joab, die seun van Seruja, en met Abjatar die priester gekonkel en hulle het beloof om hom te steun.

8. Sadok, die ander priester, Benaja, die seun van Jojada, Natan die profeet, asook Simeï, Reï en al Dawid se lyfwagte het botweg geweier om Adonia te ondersteun.

9. ’n Paar dae later het Adonia ’n klomp skape, beeste en vetgemaakte kalwers gevat en dit by die Sogeletrots naby die Rogelfontein gaan offer. Hy het toe die ander seuns van Dawid asook van sy amptenare wat van Judese afkoms was, na die feesmaal genooi.

10. Adonia het egter nie sy halfbroer Salomo of die profeet Natan of Benaja of enigiemand van die koning se lyfwagte genooi nie.

11. Natan was baie ontsteld hieroor en het na Batseba, Salomo se ma, gegaan en haar gevra: “Het u gehoor dat Adonia die seun van Gaggit homself koning gemaak het?

12. Indien u u eie lewe en dié van Salomo wil spaar,

13. moet u onmiddellik na die koning toe gaan en vir hom vra: ‘U Majesteit, het u my nie lank gelede al beloof dat my seun Salomo na u koning sal word nie? As dit so is, waarom het Adonia dan vandag koning geword?”’

14. Natan het egter iets belangriks bygevoeg: “Terwyl u nog met die koning praat, sal ek binnekom en dieselfde dinge vir die koning sê.”