Die Boodskap

1 Konings 1:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Koning Dawid was nou al ’n baie ou man. Hulle het hom met komberse toegemaak, maar dit kon hom nie warm maak nie.

2. Ten einde raad het Dawid se mense gesê: “U Majesteit, laat ons vir u ’n jongmeisie kry wat by u kan bly en wat vir u kan sorg. Sy kan ook langs u lê en u probeer warm maak.”

3. Dawid het ingestem en hulle het oral na ’n mooi jongmeisie gesoek. Uiteindelik het hulle in Sunem se omgewing die regte een gekry. Haar naam was Abisag en hulle het haar reguit na die koning toe gevat.

4. Sy was werklik baie mooi. Sy het Dawid met alles gehelp en hom goed versorg. Hulle het egter nie seks gehad nie.

5. Na Absalom se dood was Adonia die oudste seun. Adonia is net na Absalom gebore. Hy was Dawid en Gaggit se kind en ’n baie aantreklike jongman.

6. Sy pa het egter nooit met hom geraas nie en hy het gedoen net wat hy wou. Adonia was ’n mooi jongman, maar baie ambisieus; hy wou graag koning word. Hy het toe vir hom ’n klomp strydwaens, perde en 50 lyfwagte gekry.

7. Hy het stilletjies met Joab, die seun van Seruja, en met Abjatar die priester gekonkel en hulle het beloof om hom te steun.

8. Sadok, die ander priester, Benaja, die seun van Jojada, Natan die profeet, asook Simeï, Reï en al Dawid se lyfwagte het botweg geweier om Adonia te ondersteun.

9. ’n Paar dae later het Adonia ’n klomp skape, beeste en vetgemaakte kalwers gevat en dit by die Sogeletrots naby die Rogelfontein gaan offer. Hy het toe die ander seuns van Dawid asook van sy amptenare wat van Judese afkoms was, na die feesmaal genooi.

10. Adonia het egter nie sy halfbroer Salomo of die profeet Natan of Benaja of enigiemand van die koning se lyfwagte genooi nie.

11. Natan was baie ontsteld hieroor en het na Batseba, Salomo se ma, gegaan en haar gevra: “Het u gehoor dat Adonia die seun van Gaggit homself koning gemaak het?