Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 35:20-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. NÁ dit alles, toe Josía die huis herstel het, het Nego, die koning van Egipte, opgetrek om te veg by Kárkemis aan die Eufraat, en Josía het uitgetrek hom tegemoet.

21. Toe stuur hy boodskappers na hom om te sê: Wat het ek met jou te doen, koning van Juda? Ek kom nie vandag teen jóú nie, maar teen die huis wat gedurig teen my oorlog voer; en God het gesê ek moet gou maak. Verset jou nie teen God wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie.

22. Josía het egter sy gesig nie van hom afgewend nie, maar homself onkenbaar gemaak om teen hom te veg; hy het nie geluister na die woorde van Nego uit die mond van God nie, en aangekom om te veg in die laagte van Megíddo.

23. En die skutters het koning Josía raak geskiet. Toe sê die koning aan sy dienaars: Bring my weg, want ek is swaar gewond.

24. Sy dienaars bring hom toe van die strydwa af weg en laat hom op sy tweede wa ry en vervoer hom na Jerusalem; en hy het gesterwe en is begrawe in die grafte van sy vaders, terwyl die hele Juda en Jerusalem oor Josía gerou het.

25. En Jeremia het ’n klaaglied op Josía gedig, en al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josía gespreek tot vandag toe en dit tot ’n insetting in Israel gemaak; en kyk, dit is beskrywe in die Klaagliedere.

26. En die verdere geskiedenis van Josía en sy vrome dade, volgens wat geskrywe is in die wet van die Here,

27. sy geskiedenis dan, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Israel en Juda.