Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 18:19-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En die Here het gesê: Wie sal Agab, die koning van Israel, oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.

20. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die Here staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die Here vra hom: Waarmee?

21. En hy sê: Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.

22. En nou, kyk, die Here het ’n leuengees in die mond van hierdie profete van u gegee, terwyl die Here tog onheil oor u gespreek het.

23. Daarop kom Sedekía, die seun van Kenáäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Langs watter weg het die Gees van die Here van my af weggegaan om met jou te spreek?

24. En Miga antwoord: Kyk, jy sal dit sien op dieselfde dag as jy van kamer tot kamer sal gaan om jou weg te steek.

25. Maar die koning van Israel sê: Neem Miga en bring hom terug by Amon, die owerste van die stad, en by Joas, die seun van die koning.

26. En julle moet sê: So spreek die koning: Sit hierdie man in die gevangenis en spysig hom met brood van verdrukking en water van verdrukking totdat ek behoue tuiskom.

27. Daarop sê Miga: As u ooit behoue tuiskom, dan het die Here nie deur my gespreek nie. Verder sê hy: Volke, luister almal saam!

28. En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gílead.

29. En die koning van Israel het aan Jósafat gesê: Ek sal my onkenbaar maak en in die geveg kom; trek u maar u eie klere aan. So het die koning van Israel hom dan onkenbaar gemaak, en hulle het in die geveg gegaan.

30. En die koning van Aram het die owerstes van sy strydwaens bevel gegee en gesê: Julle moet nie klein of groot beveg nie, net die koning van Israel alleen.

31. En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is die koning van Israel! En hulle het hom omsingel om te veg; maar Jósafat het geskreeu, en die Here het hom gehelp, en God het hulle van hom af weggelok.

32. En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was nie, draai hulle agter hom weg.

33. Toe het ’n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel getref tussen die aanhegsels en die pantser. Daarop sê hy aan die drywer: Ruk om en bring my uit die leër uit, want ek is gewond.

34. En die geveg het dié dag toegeneem, terwyl die koning hom staande hou in die strydwa teenoor die Arameërs tot die aand toe; maar teen sononder het hy gesterwe.