Die Boodskap

Spreuke 26:9-16 Die Boodskap (DB)

9. ’n Dronk mens kom nie agter as ’n doring in sy hand steek nie. Almal sien dit en lag vir hom. So weet ’n dwaas ook nie eens as hy een van hierdie spreuke gebruik nie. Mense hoor dit, maar steur hulle nie daaraan nie.

10. Moenie sommer enige een wat verbystap vir tuinwerk huur nie. Hy kan groot skade maak. Hy is soos ’n wag wat beheer verloor en op verbygangers skiet.

11. Soos ’n hond wat na sy eie braaksel terugkeer, so is ’n dwaas wat dom dinge oor en oor doen.

12. Ken jy ’n mens wat wys is in sy eie oë? Hy weet mos altyd beter. Wel, daar is ’n groter kans dat ’n dwaas sal verander as hy.

13. ’n Lui mens dink die vreeslikste verskonings uit waarom hy nie wil gaan werk nie. ’n Leeu sal hom opvreet as hy dit sou waag om sy voete buite te sit. Of dalk vang die leeu hom op pad werk toe.

14. Soos ’n deur aan ’n skarnier vas is, so is ’n lui mens aan sy bed vas. Soos ’n deur aan sy skarnier draai, so draai die lui mens om en om op sy bed.

15. ’n Lui mens sal nog aan die tafel sit, maar is te lui om die kos in sy mond te sit.

16. ’n Lui mens dink mos hy weet baie meer as selfs die slimste mense.