Die Boodskap

Spreuke 12:17-28 Die Boodskap (DB)

17. ’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak. ’n Vals mens lieg net.

18. Party mense maak ander graag seer. Hulle woorde is soos ’n skerp mes wat alles stukkend sny. ’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe.

19. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie. Leuentaal is waardeloos. Woorde wat nie opreg is nie, beteken niks nie.

20. Wie net altyd slegte planne teen ander beraam, is ’n bedrieër. Hy is ’n diep ongelukkige mens. Wie ander liefhet, ervaar groot vreugde.

21. ’n Gelowige sal nie swaarkry nie. ’n Slegte mens se ellendes ken geen einde nie.

22. Die Here haat ’n spul liegstories. Hy is lief vir mense wat die waarheid praat.

23. ’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis. Dom mense blaker die min wat hulle weet, vir almal uit.

24. Mense wat hard werk, bereik hulle doel. Hulle kom bo uit. Luies bly lewenslank ander se vloerlappe.

25. Bekommernis versuur jou lewe. ’n Bemoedigende woord van ’n gelowige maak jou gelukkig.

26. Gelowiges laat vriende vir hulle wys wat om te doen. Slegte mense lei ander die afgrond in. ’n Gelowige se lewe is vol opwinding. Wie net die verkeerde dinge doen se lewe is vol ellende. Dit is soos die dood.

27. Slapheid bring jou nêrens nie. Jy word net armer. Harde werk is die moeite werd. Dit kan jou geld in die sak bring.

28. ’n Gelowige geniet die lewe. Ongelowiges is lewendig dood. Hulle ken net angs en vrees.