Die Boodskap

Rigters 20:37-46 Die Boodskap (DB)

37. Die soldate wat in die hinderlae gelê het, het vinnig opgespring, die stad oorrompel en al die inwoners van Gibea doodgemaak.

38. Die twee groepe Israelitiese soldate het ’n teken met mekaar afgespreek.

39. Sodra die hoofgroep ’n rookwolk uit die stad uit sien opgaan, moet hulle omdraai. Teen dié tyd het die Benjaminiete wat hulle agtervolg het, reeds die 30 Israeliete doodgemaak en het hulle nog vir mekaar geskree: “Ons verslaan hulle al weer soos die vorige kere!”

40. Net toe het die rookwolk uit die stad uit opgestyg. Toe die Benjaminiete omkyk, was hulle verstom om te sien dat die hele stad aan die brand is.

41. Die Israelitiese soldate het toe omgespring en hulle begin aanval. Dis toe dat die Benjaminiete vreesbevange geraak het, want hulle het besef dat ’n groot ramp hulle getref het.

42. Hulle het die woestyn in probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agternagesit. Dit het nie gehelp nie, want hulle was vasgevang tussen die hoofleër en die soldate wat uit die stad gekom het. Hulle is net daar verslaan.

43. Die Israeliete het die soldate van Benjamin omsingel en hulle genadeloos uitgeroei regoor Gibea aan die oostekant.

44. Agtien duisend van Benjamin se beste troepe is daardie dag dood.

45. Die ander het omgedraai en woestyn toe gevlug in die rigting van die rots van Rimmon. Van hulle is daar nog 5 000 langs die pad doodgemaak. Israel het die res tot by Gidom agtervolg en nog 2 000 soldate doodgemaak.

46. Op daardie dag het Benjamin 25 000 dapper soldate verloor.