Die Boodskap

Rigters 14:2-13 Die Boodskap (DB)

2. Hy is terug huis toe waar hy vir sy pa-hulle gesê het: “Ek het ’n Filistynse meisie in Timna gesien met wie ek wil trou. Tref asseblief die nodige reëlings.”

3. Hulle vra toe vir hom: “Is daar nie onder jou eie mense ’n vrou van wie jy dalk hou nie? Hoekom moet jy nou onder die heidense Filistyne vir jou ’n vrou gaan soek?”Maar Simson het vir sy pa gesê: “Ek hou van haar, ek wil met haar trou.”

4. Sy ouers het nie besef dat die Here agter alles sit nie, want die Here het ’n geleentheid gesoek om die Filistyne op hulle plek te sit. In daardie stadium het die Filistyne oor die Israeliete regeer.

5. Simson en sy ouers is toe weg Timna toe. By die wingerde naby Timna het ’n jong leeu op Simson afgestorm.

6. Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak en hy het die leeu met sy kaal hande uitmekaargeskeur asof dit ’n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie.

7. In Timna het hy met die Filistynse vrou gaan gesels en hy het sommer baie van haar gehou.

8. Later, op pad terug Timna toe vir die troue, het Simson van die pad afgedraai om na die leeu se geraamte te gaan kyk. Daar kry hy toe ’n swerm bye wat in die karkas nes gemaak het met heuning daarin.

9. Hy het van die heuning uitgehaal en dit geloop en eet. Toe hy by sy pa-hulle kom, het hy vir hulle ook van die heuning gegee om te eet. Hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie.

10. Simson is toe van daar af na die vrou se huis toe, waar hy ’n groot bruilofsfees gehou het volgens die gebruik van die jongmans van daardie tyd.

11. Die Filistyne het 30 jongmans gestuur om hom te kom help.

12. Simson sê toe vir hulle: “Kom ek vra julle ’n raaisel. As julle die raaisel binne die sewe dae wat die fees aanhou, kan oplos, sal ek vir julle 30 linnehemde en 30 stelle klere gee.

13. Maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my 30 linnehemde en 30 stelle klere gee.”“Reg so,” het hulle gesê, “kom ons hoor wat is jou raaisel!”