Die Boodskap

Maleagi 2:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Daarom gaan Ek julle voor julle eie mense in die verleentheid bring en sonder eer los. Die rede daarvoor is in die eerste plek omdat julle nie na My wou luister nie, maar julle eie kop gevolg het. En in die tweede plek het julle nie almal gelyk behandel nie, maar julle het kant gekies vir dié wat agteraf vir julle omkoopgeskenke gegee het.

10. Is ons nie almal een Pa se kinders nie? Het dieselfde God ons nie gemaak nie? Hoekom breek julle God se ooreenkoms met ons voorouers deur mekaar so te belieg en te bedrieg?

11. Dit wat in Juda en Israel en in Jerusalem gebeur, is skandelik. Die mans van Juda trou met buitelandse vroue wat God glad nie dien nie, en dan kom hulle na die Here se heilige tempel toe om te kom offer asof daar niks mee verkeerd is nie.

12. Mag die Here hierdie losbandige mense uit die gemeenskap wegvat en hulle nooit weer toelaat om deel van die gemeente van die Here te word nie.

13. Daar is nog iets wat julle doen. Julle kerm en kreun en huil omdat die Here volgens julle nie julle offers wil aanvaar nie.

14. Maar daar is ’n rede daarvoor. Dis omdat die Here weet dat jy ontrou geword het aan die vrou met wie jy getrou het toe jy jonk was. Sy was nog altyd jou maat wat daar was vir jou in goeie en moeilike tye. Maar jy het al jou troubeloftes teenoor haar gebreek.

15. Niemand wat nog ’n bietjie verstand het, maak só nie. Wat dink jy was God se doel toe Hy julle in die huwelik soos een mens gemaak het? Was dit nie juis dat julle kinders sou hê wat God sou ken en dien nie? Maar as jy so maak, gaan dit nie gebeur nie. Moenie toelaat dat jou emosies so met jou weghardloop dat jy die kosbaarste besitting wat jy het deur swak besluite verloor nie.

16. “Ek haat egskeiding!” sê die Here, die God van Israel. Ek kan dit nie verdra as iemand so gevoelloos teenoor sy vrou optree nie. Dink mooi na oor wat jy doen en moenie jou belofte om aan jou vrou getrou te wees sommer net breek nie.

17. Al julle gepraat maak die Here moeg. En weereens sê julle julle kan dit nie verstaan nie. Maar tog hou julle aan sê: “God hou so baie van die slegte mense dat Hy hulle nie eens straf oor wat hulle verkeerd doen nie.” En julle wat mekaar om elke hoek en draai loop en bedrieg, wil heel verwaand weet: “Waar is die God wat veronderstel is om reg te doen?”