Die Boodskap

Levitikus 27:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Tussen ’n maand oud en vyf jaar oud is die bedrag vyf stukke vir die seuntjie en drie vir die dogtertjie.

7. Die bedrag vir ’n man bo 60 is vyftien stukke en vir ’n vrou bo dieselfde ouderdom is dit tien stukke.

8. “As die persoon wat die belofte gemaak het nie hierdie bedrag kan bekostig nie, moet hy die persoon wat hy aan God belowe het, na die dienaar by die tent toe vat. Hy sal dan ’n kleiner afkoopsom bepaal wat binne die vermoë is van die persoon wat die belofte gemaak het.”

9. “As hy ’n dier wat geskik is om geoffer te word aan die Here beloof het, behoort dit geheel en al aan die Here.

10. Hy mag nie die dier omruil met ’n ander dier of dit vervang met óf iets beters óf iets slegters nie. As hy tog wel probeer om een dier met ’n ander een om te ruil, sal sowel die plaasvervanger as die dier wat eerste belowe is, aan die Here behoort.

11. As die dier wat vir die Here belowe is ’n dier is wat nie op die altaar geoffer mag word nie, moet die dier na die dienaar by die Here se tent gebring word

12. om dit te waardeer. Hy bepaal die bedrag wat vir die dier betaal moet word, en daaroor word nie verder gekibbel nie.

13. As die persoon wat die belofte gemaak het, die dier vir homself wil terugkoop, moet hy nog ’n vyfde byvoeg by die bedrag wat die dienaar gesê het.”

14. “Wanneer iemand belowe het om sy huis vir die Here te gee, moet die dienaar van die tent af kom en die afkoopwaarde kom bepaal. Of hy dit oor- of onderwaardeer, is nie ter sake nie. Die bedrag wat hy vasgestel het, staan vas.

15. As die persoon wat die huis aan die Here afgestaan het, dit vir homself wil terugkoop, moet hy ’n vyfde bysit by die bedrag wat bepaal is. Die huis sal dan weer aan hom behoort.”

16. “Iemand kon beloof het om van sy erfgrond, ’n stuk land waarop geplant en geoes kan word, aan die Here af te staan. Die afkoopwaarde daarvan moet dan bepaal word volgens die saad wat gewoonlik daarop gesaai kan word. Vir elke 100 kilogram saad word 50 stukke bereken.

17. Indien hy sy saailand tydens die hersteljaar vir die Here beloof het, bly die volle bedrag net so staan.

18. Indien dit eers na die hersteljaar is dat iemand sy land vir die Here gee, moet die dienaar van die Here die bedrag minder maak volgens die aantal jare wat nog oor is tot die volgende hersteljaar.