Die Boodskap

Josua 9:6-19 Die Boodskap (DB)

6. So is hulle toe daar weg Gilgal toe, waar die Israeliete se kamp was. Daar aangekom, sê hulle vir Josua: “Ons kom uit ’n ver land om julle te vra om met ons ’n ooreenkoms aan te gaan.”

7. Die Israeliete het vir die Gibeoniete, wat Hewiete van afkoms was, gesê: “Ons is nie seker of ons ’n ooreenkoms met julle moet sluit nie. Wie sê julle bly nie sommer hier naby ons nie?”

8. Hierdie Gibeoniete sê toe vir Josua: “Ons sal julle onderdane wees.”“Wie is julle en waar kom julle vandaan?” wou hy dadelik weet.

9. Toe vertel hulle hom hierdie storie: “Ons kom van ’n baie ver land af na julle toe. Ons het gehoor van die groot dinge wat die Here julle God gedoen het. Ons weet wat in Egipte gebeur het

10. en ook wat Hy met die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan gedoen het: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan, wat in Astarot gebly het.

11. Daarom het ons leiers en ons mense vir ons gesê: ‘Vat vir julle padkos vir ’n lang reis en gaan praat met hierdie mense. Sê vir hulle dat ons bereid is om hulle dienaars te wees. Vra hulle om ’n ooreenkoms met julle te sluit om in vrede saam te leef.’

12. Kyk na ons padkos. Toe ons van ons huise af weg is na julle toe, was ons brood nog warm, so vars was dit. Maar kyk nou, nou is dit kliphard en verdroog!

13. Kyk na ons wynsakke. Hulle was nuut toe ons hulle volgemaak het en nou is hulle vol barste. En sien julle hoe gehawend is ons klere en ons skoene? Dit is omdat ons so ver moes kom.”

14. As ’n teken van vriendskap het die Israeliete toe saam met die Gibeoniete van hulle padkos geëet. Ongelukkig het hulle nie die Here daaroor geraadpleeg nie.

15. Josua het ’n vredesverdrag met hulle gesluit. Die leiers van die volk het dit amptelik onderskryf.

16. Drie dae nadat die ooreenkoms gesluit is, het die Israeliete uitgevind dat die Gibeoniete eintlik baie naby bly, sommer daar in dieselfde omgewing.

17. Die Israeliete is onmiddellik daar weg om te gaan ondersoek instel. Na drie dae het hulle by die stede van die Gibeoniete aangekom: Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18. Die Israeliete het hulle egter nie aangeval nie, omdat hulle leiers ’n eed in die Naam van die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê het. Hieroor was die volk ontsteld en het by die leiers gekla.

19. Maar die leiers van Israel het gesê: “Ons het ’n eed voor die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê. Ons mag nou niks aan hulle doen nie.