Die Boodskap

Josua 18:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Dit sluit die suidelike deel uit wat aan Juda behoort; ook die noordelike deel waar Josef se kinders bly.

6. “Hulle moet vir my die grense van die sewe gedeeltes bring sodat ek die verdeling hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak.

7. Die Leviete kry nie enige grond nie, want die Here het hulle die voorreg gegee om priesters in sy diens te wees. Wat Gad, Ruben en die halwe Manassestam betref, hulle het reeds hulle gedeelte aan die oostekant van die Jordaan gekry toe Moses die dienaar van die Here nog geleef het.”

8. Die groep het hulle toe gereedgemaak om die land te gaan opmeet nadat Josua aan hulle die volgende opdragte gegee het: “Gaan die hele gebied deur en bepaal die grense noukeurig, kom dan terug hier na my toe sodat ek hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here ’n verdeling kan maak.”

9. Die groep is toe daar weg. Hulle het die gebied in sewe dele op hulle kaart verdeel en ook al die dorpe in elke gebied opgeskryf. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo.

10. Daar het Josua toe die land onder die oorblywende stamme, in die teenwoordigheid van die Here, verdeel.

11. Die eerste stam aan wie ’n gedeelte van die grond toegeken is, was dié van Benjamin. Dit was die gebied tussen die gedeeltes van Juda en Josef.

12. Hulle noordelike grens het by die Jordaan begin en loop dan al met die hang noord van Jerigo langs. Dan draai dit weswaarts oor die bergagtige gebied tot in die Bet-Awenwoestyn.

13. Van daar af loop die grens suid na Lus toe (ook bekend as Bet-El) en dan af na Atrot-Addar toe op die berg suid van Bet-Goron-Onder.

14. Dan draai die grens in ’n westelike rigting, suid van die berg reg teenoor Bet-Goron totdat dit doodloop by Kirjat-Baäl, ook bekend as Kirjat-Jearim. Hierdie stad het aan Juda behoort. Dit is die westelike grens.

15. Die suidelike grens van Benjamin het by Kirjat-Jearim begin, van waar dit weswaarts afgeloop het in die rigting van Neftoag se waterbronne.