Die Boodskap

Jeremia 41:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Ismael het uit Mispa uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy was droewig aan die huil. Toe hy by hulle kom, het hy gesê: “Kom eers na Gedalja toe voordat julle verder gaan.”

7. Toe hulle in die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 mense doodgemaak. Hy het die lyke in ’n put gegooi.

8. Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle sou vir hom die koring, gars, olie en heuning gee wat hulle in die veld opgegaar het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie.

9. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ook ’n groot put gegrawe om water in op te vang. Dit was in hierdie put wat Ismael die lyke gegooi het.

10. Ismael het ook al die ander mense gevang wat in Mispa was. Onder hierdie mense was Sedekia se dogters. Nebusaradan het hulle by Gedalja in Mispa gelos sodat hy na hulle kon kyk en kon versorg. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.

11. Maar Joganan en die groep soldate wat by hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het.

12. Hulle het toe al die mans saam met hulle gevat en teen Ismael gaan baklei. Hulle het by die groot dam naby Gibeon op hom afgekom.

13. Toe die mense wat deur Ismael gevang is, vir Joganan en sy manskappe sien, het hulle geskree omdat hulle bly was.

14. Hulle het ontsnap en vir Joganan teen Ismael begin help.

15. Intussen het Ismael en agt van sy mense weggekom en na die Ammoniete toe gevlug.

16. Joganan en sy offisiere het al die mense wat hulle uit Ismael se hande gered het, van Gibeon af weggevat. Onder hulle was al die mans, soldate, vroue, kinders en paleisamptenare wat Ismael gevang het.

17. Hulle het hierdie mense na Gerut-Kimham naby Betlehem gevat. Daarvandaan sou hulle Egipte toe gaan.

18. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs sou doen omdat Ismael vir Gedalja vermoor het. Dit was dan juis die Babiloniese koning wat Gedalja as bestuurder van Juda aangestel het.