Die Boodskap

Jeremia 36:6-23 Die Boodskap (DB)

6. Maar gaan jy môre, wanneer dit die dag is waarop mense sonder kos bly, na die tempel toe. Gaan lees vir die mense uit hierdie boek wat die Here sê. Mense van al die stede in Juda sal môre daar wees.

7. Miskien sal hulle bid en ophou om op so ’n slegte manier te leef. Die Here is baie kwaad. Hy het gesê dat vreeslike goed met sy eie mense gaan gebeur. Hy gaan hulle straf.”

8. Baruk het alles gedoen wat Jeremia hom gesê het om te doen. Hy het wat in die boek geskryf was vir die mense by die tempel voorgelees.

9. Dit het gebeur op ’n vasdag in die herfs, ’n dag waarop niemand moes eet nie. Jojakim was toe in sy vyfde jaar as koning van Juda. Die mense het uit die stede in Juda en Jerusalem gekom om hierdie dag by die tempel by te woon.

10. Baruk het uit die boek wat hy vir Jeremia geskryf het vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja se kantoor in die tempel toe hy dit gedoen het. Gemarja was die seun van Sallum, wat sekretaris in die paleis van die koning was. Hierdie kamer was in die boonste voorhof naby die nuwe ingang van die tempel.

11. Miga, ’n seun van Gemarja en kleinseun van Safan, het ook gehoor wat Baruk uit die boek voorgelees het.

12. Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die sekretaris, Delaja die seun van Semaja, Elnatan die seun van Akbor, Gemarja die seun van Safan, Sedekia die seun van Gananja en ook nog ander amptenare.

13. Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het,

14. het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om dit ook vir hulle te kom voorlees. Jehudi was ’n seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was.

15. Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boek vir hulle voor te lees. Hy het gemaak soos hulle gevra het.

16. Toe hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, was hulle baie bang. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet vir die koning alles vertel wat ons gehoor het.”

17. Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, waar kry jy alles wat jy hier neergeskryf het? Het Jeremia vir jou gesê wat om te skryf?”

18. Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit in ink in hierdie boek neergeskryf.”

19. Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet vir julle eie beswil liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”

20. Die amptenare het die boek in die kantoor van Elisama die sekretaris gebêre en toe na die paleis toe gegaan. Hulle het vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.

21. Koning Jojakim het vir Jehudi gestuur om die boek te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl sy amptenare bygestaan het.

22. Dit was in die winter. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.

23. Baruk het die boek in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boek te sny. Hy het deel vir deel van die boek uitgesny en in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy alles verbrand het.