Die Boodskap

Jeremia 13:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Ek het toe na die Eufraat toe gegaan en die lap weggesteek presies soos die Here gesê het ek moes doen.

6. Na ’n lang tyd het die Here vir my gesê: “Gaan terug na die Eufraat toe en gaan haal die lap uit die opening in die rots waar Ek gesê het jy dit moet wegsteek.”

7. Ek het toe teruggegaan na die Eufraat. Toe ek daar kom, het ek die lap uit die skeur in die rots gehaal waar ek dit weggesteek het. Maar die lap het al begin stukkend gaan. ’n Mens sou dit nie meer kon gebruik nie.

8. Toe het die Here vir my begin verduidelik wat dit alles beteken.

9. Hy het gesê: “Hierdie stuk lap het uitmekaar begin val. Ek sal die hooghartige houding van Juda en Jerusalem net so laat verdwyn soos met die lap gebeur.

10. Hierdie slegte volk sal net so nutteloos word soos hierdie stuk lap. ’n Mens kan dit nie meer gebruik nie. Dit sal gebeur omdat hulle weier om na My te luister. Hulle is baie hardkoppig en doen net wat hulle wil. Hulle vereer en dien ander gode.

11. Soos hierdie linnelap om ’n mens se heupe span, so wou Ek gehad het dat Juda en Israel aan My gebind moes wees. My wens was dat hulle my volk moes wees. Hulle moes so lewe dat mense aan My eer bring en mooi dinge van My sê. Dit moes vir My ’n eer gewees het om aan hulle verbind te wees. Maar hulle was ongehoorsaam.”

12. “Praat met hulle en gee hulle hierdie boodskap. Die Here, die God van Israel, sê: ‘Al die wynkruike moet vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik weet ons dat ons al die kruike vol wyn moet maak.’

13. Dan moet jy vir hulle sê: Nee, dít is wat die Here bedoel. Hy sê: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou regeer en wat deel is van koning Dawid se familie. Verder ook nog die godsdienstige leiers, die profete van die Here en die gewone mense wat in Jerusalem bly.

14. Soos kruike wat breek as hulle teen mekaar gestamp word, so sal Ek hulle teen mekaar stukkend stamp, ouers en kinders almal saam. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek voel niks vir hulle nie, Ek sal hulle vernietig.”

15. Luister, gee ’n bietjie aandag! Moenie so arrogant wees nie, dit is die Here wat met julle gepraat het.