Die Boodskap

Deuteronomium 30:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Hy sal jou terugbring na die land wat Hy aan jou oupagrootjies en oumagrootjies gegee het. En daardie land sal weer aan jou behoort. Dan sal die Here jou selfs nog meer voorspoedig maak as voorheen. Jou volk sal groter wees as voor die Here jou uit jou land weggejaag en aan jou vyande oorgegee het.

6. “Dan sal die Here jou God jou hart verander. En Hy sal die harte van jou kinders en kleinkinders verander. Julle sal die Here liefhê bo enigiets of enigiemand anders. As ’n mens die Here eerste in jou lewe stel, laat Hy jou lewe!

7. Al die slegte goed wat die Here met jou laat gebeur het, sal dan met jou vyande gebeur. Dit sal sleg gaan met al die mense wat jou gehaat het en sleg aan jou gedoen het.

8. Daardie dag sal jy presies doen wat die Here beveel het. Dan sal jy alles doen wat ek vandag vir jou gesê het.

9-10. Dan sal die Here jou God jou weer voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee. En Hy sal vir jou baie skape en beeste gee. Jy sal rekordoeste op jou lande hê. Want dis vir die Here lekker as jy doen wat Hy vir jou sê. Hy is bly en opgewonde oor jou as jy haarfyn alles doen wat in hierdie boek opgeteken staan. Daarom, draai terug na die Here toe. Loop agter Hom aan met alles wat in jou is.”

11. “Wat ek julle vandag beveel om te doen is nie te moeilik nie. Julle kan dit verstaan. En julle kan dit ook doen.

12. Wat die Here van julle vra, is nie so moeilik dat ’n mens in die hoë hemel moet gaan soek om dit te verstaan nie. Dis nie nodig dat iemand uit die hemel moet afkom en vir jou vertel wat van jou verwag word voor jy dit sal kan doen nie.

13. Wat die Here van jou vra, kan jy doen. Sy opdragte is ook nie ver oor die see sodat jy iemand moet soek om op ’n skip te klim en oorsee te vaar om dit te gaan soek nie. Jy kán lewe soos die Here van jou verwag.

14. Wat Hy van jou vra, is eintlik baie naby aan jou. Ek het dit vir jou in jou hand gegee. Jy kan daaroor praat. Ja, jy ken dit al teen dié tyd. Jy is in staat om te lewe soos die Here van jou verwag.