Die Boodskap

Deuteronomium 26:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Toe het Hy ons na hierdie plek gebring. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is ’n goeie land. Hier is meer as genoeg om van te leef.

10. Daarom, Here, bring ek hierdie geskenk vir U. Dis maar net ’n ietsie van die baie wat U vir my gegee het. Ek bring dit van die eerste oes wat ek vanjaar in hierdie land afgehaal het.’“Dan moet jy die geskenk voor die Here jou God neersit. Jy moet laag voor die Here buig en Hom dien.

11. As jy klaar is, moet jy teruggaan na waar jy bly. Dan moet jy daar ’n groot fees vier omdat die Here jou God goeie dinge vir jou en jou huismense gegee het. Wees bly, want Hy is goed vir jou. Onthou net om ook vir die mense wat in die huis van die Here jou God werk, die kleinkinders van Levi, iets saam te bring. Doen ook goed aan die vreemdelinge. Deel die goeie dinge wat die Here vir jou gegee het met hulle. Laat hulle saam met jou feesvier en bly wees.”

12. “Jy moet elke derde jaar ’n spesiale tiende van jou oes vat. Hierdie tiende behoort aan die Here. Jy moet dit vir die mense wat in die huis van die Here werk en vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gee. As jy só maak, sal hulle ook genoeg hê om te eet. Dan sal niemand in een van jou stede honger ly nie.

13. Jy moet hardop sê: ‘Ek het die geskenk uit my huis wat aan die Here behoort, gevat. Ek het dit vir die mense wat die Here dien en in sy huis werk, asook vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gegee. Ek het alles gedoen nes U my beveel het, Here. Ek het niks wat U my beveel het, vergeet nie.

14. Ek het niks daarvan geëet terwyl ek hartseer was omdat iemand na aan my dood is nie. Ek het ook nie hierdie offer vir U gebring toe ek nie heeltemal rein was nie. En ek het niks daarvan as ’n offer vir dooie mense gegee nie. Ek het alles gedoen wat die Here my beveel het. Ek het nie vergeet wat U vir my gesê het nie.

15. Daarom, Here, laat daar nou ’n glimlag op u gesig wees as U na my kyk. Kyk na my daar van die plek af waar U bly en maak u volk Israel voorspoedig in alles wat hulle doen. Laat hulle land ook oorgenoeg hê sodat al die mense in die land genoeg het om te eet. U het mos ons oupagrootjies en oumagrootjies belowe dat U dit sal doen.’”

16. “Die Here jou God sê vandag vir jou dat jy haarfyn alles moet doen wat Hy jou beveel. Jy moet presies maak soos Hy vir jou sê. Jy moet dit alles doen sonder om vir een oomblik jou eie kop te volg.

17. Jy het mos gesê dat die Here jou God is. Jy het vandag gesê dat Hy jou volk se Regeerder moet wees. En jy het belowe dat jy alles sal doen wat Hy sê. Jy sal doen wat Hy jou beveel.

18. Daarom verklaar die Here vandag dat jy sy volk is. Julle behoort aan Hom. En julle is baie kosbaar vir Hom. Hy sal julle oppas. Hy belowe dat Hy dit sal doen. Julle moet net alles doen wat Hy julle beveel.

19. As julle dit doen, maak Hy julle groter as enige ander nasie op aarde. Dan sal almal na julle opsien. Hulle sal vertel hoe beroemd en sterk en ryk julle is. Julle is ’n nasie wat eenkant gesit is om die Here te dien. So belowe die Here jou God.”