Die Boodskap

Deuteronomium 24:10-19 Die Boodskap (DB)

10. “As iemand iets van jou leen, mag jy nie in sy huis ingaan en iets vat wat jy in ruil vir jouself hou nie.

11. Staan buitekant sy huis. Hy sal wel iets vir jou bring wat jy kan hou as waarborg dat hy sy skuld sal betaal.

12. Dalk gebeur dit dat jou buurman arm is, en al wat hy vir jou kan gee, is die klere aan sy lyf. Dan mag jy nie sy klere oornag hou nie.

13. Gaan gee die klere terug wanneer die son sak, want hy slaap in sy klere. Dis al wat hy het om hom warm te maak. Hy sal jou voorspoed toewens as jy sy klere teruggee. En die Here sal ook sien wat jy doen en dit sal goed wees in sy oë.

14. “Moenie iemand wat elke dag teen betaling werk, sleg behandel nie. Dit maak nie saak of hy ’n mede-Israeliet is of iemand wat aan ’n ander volk behoort nie.

15. Betaal elke dag voor die son sak die lone van die mense wat vir jou werk. Hierdie mense is arm en het niks anders om van te leef nie. Hulle maak staat op die bietjie geld wat jy hulle gee om te kan eet. Anders roep hulle nou-nou die Here aan omdat hulle honger hulle deur die nag wakker hou. En die Here luister na arm mense. Dan straf die Here jou oor hierdie slegte ding wat jy gedoen het.

16. “Ouers mag nie doodgemaak word as hulle kinders slegte dinge aanvang nie. En kinders mag nie doodgemaak word oor hulle ouers se slegte dade nie. Net die persoon wat die oortreding begaan het, mag doodgemaak word.

17. “Jy moet die vreemdeling wat by jou bly en die weeskind goed behandel. Jy moet sorg dat daar reg aan hulle gedoen word. Jy mag nooit die weduwee se klere van haar af wegvat om seker te maak dat sy iets wat sy by jou geleen het, terugbring nie.

18. Onthou dat julle slawe in Egipte was. En dink daaraan hoe goed die Here toe vir julle was. Hy het julle gered. Daarom beveel ek jou om so met vreemde mense te werk soos die Here aan jou gedoen het.

19. “Sê nou jy is besig om die oes op jou lande in te bring. Jy kom agter dat jy van die graan op die land vergeet het. Moenie teruggaan om dit te gaan haal nie. Nee, los die graan wat agterbly vir die vreemdelinge en die weeskinders en die weduwees. Hulle het niks anders om van te leef nie. As jy dit doen, sal die Here vir jou voorspoed gee in alles wat jy doen. Hy hou van vrygewige mense.