Die Boodskap

Deuteronomium 23:17-25 Die Boodskap (DB)

17. “Dit mag nooit gebeur dat enige man of vrou onder die Israeliete by die huis van die Here hulle liggaam aanbied om met ander mense seks te hê nie.

18. Jy mag ook nie enige geld na die tempel toe bring wat ’n man of vrou verdien het deur by iemand anders te slaap nie. Sulke geld is walglik vir die Here. Hy verdra nie sulke mans en vroue nie.

19. “Jy mag nie rente vra as jy geld aan iemand van jou volk uitleen nie. Dieselfde geld as jy kos of iets anders aan ’n mede-Israeliet leen. Jy mag nie rente daarop vra nie.

20. Ja, vir die mense van ander nasies mag jy rente vra, maar nie vir die Israeliete nie. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy doen in die land wat jy een van die dae sal binnegaan om in te gaan bly.

21. “Dit gebeur dalk dat jy belowe om iets te doen as die Here jou God jou gebed beantwoord. Dan moet jy dadelik doen wat jy belowe het, want die Here jou God verwag van jou om jou woord te hou, om te doen wat jy vir Hom belowe het. As jy dit nie doen nie, sal jy skuldig wees aan ’n slegte ding wat jy die Here aandoen.

22. Jy doen nie ’n verkeerde ding as jy glad nie ’n belofte maak nie.

23. Maar as jy uit jou eie so ’n belofte aan die Here gemaak het, sal jy wys wees as jy nougeset alles doen wat jy beloof het. Jy het immers ’n belofte aan die Here jou God gemaak.

24. “Jy mag eet soveel as wat jy wil as jy by iemand se wingerd verbyloop. Maar jy mag nie van die druiwe pluk en in ’n mandjie sit om saam te neem nie.

25. Net so mag jy ’n paar graankorrels pluk as jy by iemand se koringland verbyloop, maar jy mag nie die graan oes nie. Dan steel jy.”