Die Boodskap

Deuteronomium 10:3-12 Die Boodskap (DB)

3. “Ek het die ark van akasiahout gemaak en twee stene soos die eerstes gekap.

4. Bo-op die berg het die Here weer die tien spesiale voorskrifte neergeskryf net soos Hy dit destyds in die vuur by Horeb vir ons gesê het.

5. Toe die Here klaar geskryf het, het Hy die plat klippe gevat en dit vir my gegee. Ek is weer bergaf met die klippe onder my arms. Net soos die Here gesê het, het ek die klippe in die ark gaan neersit.

6. “Israel het op ’n keer in die woestyn by die fonteine van die seuns van Jaäkan gaan woon. Van daar is hulle na Mosera, waar Aäron gesterf het en begrawe is. Sy seun Eleasar het hom as priester opgevolg.

7. Van Mosera het hulle na Gor-Gidgad getrek en van daar weer na Jotbata, ’n plek met volop water.

8. “In dié tyd het die Here die stam van Levi vir ’n spesiale werk afgesonder. Hulle moes die ark met die getuienis van die ooreenkoms met die Here dra en sy priesters wees. Hulle moes ook die mense in die Naam van die Here seën. Tot vandag toe is die Leviete priesters.

9. Dit is ook waarom die Leviete nie ’n stukkie grond in die nuwe land gaan kry nie. Hulle moet net getroue priesters wees; dan sal die Here self vir hulle sorg.

10. “Soos ek gesê het, was ek vir 40 dae en nagte bo-op op die berg, net soos die eerste keer. Ek het daar met die Here geworstel omdat Hy jou, Israel, wou vernietig. Die Here het egter my gebede verhoor en jou nie uitgeroei nie.

11. Hy het toe vir my gesê om julle na die land toe te lei wat Hy lank gelede al aan julle voorvaders beloof het.”

12. “Israel, wat is dit wat die Here van jou vra? Hy vra net dat jy Hom alleen moet aanbid. Hy vra jou om sy wil te gehoorsaam; om Hom altyd lief te hê; om Hom met jou hele wese en met oorgawe te dien;