Die Boodskap

Deuteronomium 10:1-7 Die Boodskap (DB)

1. “Toe het die Here weer vir my gesê: ‘Kap twee plat klippe, net soos die eerstes wat jy stukkend gebreek het. Maak ook ’n houtark waarin jy die klippe kan sit. Klim dan weer op na My toe bo-op die berg.

2. Ek sal dieselfde woorde op die plat klippe skryf as wat Ek die eerste keer daarop geskryf het. Jy moet dit dan vat en in die ark gaan sit.’

3. “Ek het die ark van akasiahout gemaak en twee stene soos die eerstes gekap.

4. Bo-op die berg het die Here weer die tien spesiale voorskrifte neergeskryf net soos Hy dit destyds in die vuur by Horeb vir ons gesê het.

5. Toe die Here klaar geskryf het, het Hy die plat klippe gevat en dit vir my gegee. Ek is weer bergaf met die klippe onder my arms. Net soos die Here gesê het, het ek die klippe in die ark gaan neersit.

6. “Israel het op ’n keer in die woestyn by die fonteine van die seuns van Jaäkan gaan woon. Van daar is hulle na Mosera, waar Aäron gesterf het en begrawe is. Sy seun Eleasar het hom as priester opgevolg.

7. Van Mosera het hulle na Gor-Gidgad getrek en van daar weer na Jotbata, ’n plek met volop water.