Die Boodskap

2 Samuel 23:11-26 Die Boodskap (DB)

11. Die derde een was Samma. Hy was Agee, wat van Harar af gekom het, se seun. Die Filistyne het eenkeer by Legi saamgetrek. Daar was ’n land vol lensies en die manskappe het vir die Filistyne gevlug.

12. Samma het in die middel van die land gaan staan om dit te verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het so vir die Israeliete ’n groot slag geslaan.

13. Drie van Dawid se 30 helde het eenkeer in die oestyd na Dawid toe gegaan waar hy in die Adullamgrot was. Die Filistyne se leër het in die Spooklaagte kamp opgeslaan.

14. Dawid het toe in die berg weggekruip omdat die Filistyne ’n afdeling soldate in Betlehem gehad het.

15. Dawid het gesug en gesê: “Ai, ek wens darem iemand kon nou vir my water gee uit die put van Betlehem, daar nes jy in die dorp ingaan.”

16. Die drie heldhaftige mans het toe by al die Filistyne se wagte verbygegaan en water gaan skep uit die put waar jy in Betlehem ingaan. Hulle het dit vir Dawid gevat, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here op die grond uitgegooi

17. en gesê: “Ek sal dit nooit drink nie, Here! Dis so goed soos die bloed van dié mans wat hulle lewe gewaag het om dit te gaan haal!” Hy wou dit glad nie drink nie. Dit is hoe dapper daardie drie was.

18. Abisai (Joab se broer en die seun van Seruja) was die leier van die 30 helde van Dawid. Hy het met sy spies 300 manne doodgesteek. Sy naam word saam met die drie mans genoem wat vir Dawid water gaan haal het.

19. Hy was beroemder as die 30 helde en hy het hulle leier geword, maar hy kom nie naby die beroemde drie nie.

20. Benaja, die dapper Jojada se seun, wat van Kabseël af gekom het, is vir baie dinge bekend. Hy het die twee mans wat “die leeus van Moab” genoem is, doodgemaak. Dis hý wat eendag toe dit gesneeu het in ’n ondergrondse reservoir ingegaan en ’n leeu daar doodgemaak het.

21. Dis ook hy wat daardie lang Egiptenaar doodgesteek het. Die Egiptenaar het ’n spies in sy hand gehad en Benaja het net ’n stok gehad. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie spies doodgesteek.

22. Dit is hoe dapper Benaja, seun van Jojada, was. Sy naam word ook saam met die drie helde genoem wat vir Dawid water gaan haal het.

23. Hy was beroemder as die 30 helde, maar hy kom ook nie naby die beroemde drie nie. Dawid het hom die leier van sy lyfwag gemaak.

24. Onder Dawid se dapperste soldate tel ook nog: Asael, Joab se broer; Elganan, Dodo van Betlehem se seun;

25. Samma en Elika van Garod;

26. Geles van Pelet; Ira, Ikkes van Tekoa se seun;