Die Boodskap

2 Samuel 21:7-18 Die Boodskap (DB)

7. Die koning het nie Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, vir hulle gegee nie, want hy en Jonatan het dit mos voor die Here vir mekaar belowe.

8. Die koning het toe Rispa se twee seuns gegee. Hulle name was Armoni en Mefiboset. (Rispa was een van Saul se vroue; haar ma was Aja.) Hy het ook die vyf seuns van Merab, Saul se dogter wat met Adriël getroud was, gegee. (Adriël was Barsillai van Megola se seun.)

9. Hy het hulle vir die mense van Gibeon gegee. Die mense van Gibeon het hierdie sewe mans almal gelyk doodgemaak en hulle op die berg by die Here se altaar opgehang. Dit het gebeur aan die begin van die oestyd, net toe die mense begin gars oes het.

10. Rispa, Aja se dogter, het ’n swart bokhaarkombers gevat en vir haar ’n skuiling op die klipplaat gemaak. Daar het sy gesit en bedags die aasvoëls en snags die jakkalse van die lyke af weggehou. Sy het by die lyke waggehou vandat die oes begin het totdat dit op die lyke gereën het.

11. Die mense het vir Dawid gaan vertel wat Rispa, Saul se haremvrou, gedoen het.

12. Hy het toe Saul en sy seun Jonatan se bene laat haal by die mense van Jabes in Gilead. (Die mense van Jabes het hulle lyke mos een nag gaan afhaal van die binnekant van die muur van Bet-San af waar die Filistyne hulle opgehang het nadat hulle vir Saul op Gilboaberg doodgemaak het.)

13. Dawid het Saul en Jonatan se bene en die bene van die mans wat by Gibeon opgehang is,

14. in Benjamin, in Kis se graf by Sela laat begrawe. Nadat die mense alles presies gedoen het soos die koning vir hulle gesê het, het God weer die land jammer gekry en die mense se gebede geantwoord.

15-16. Daar was weer oorlog tussen die Israeliete en die Filistyne. Dawid het saam met sy soldate gaan veg. Hulle kamp was in Gob. Dawid het baie moeg geword in die geveg. ’n Filistyn het toe gedink hy kan Dawid doodmaak. Hy was ’n reus van ’n man. Sy spies se bronspunt het meer as drie kilogram geweeg. Hy wou Dawid met sy nuwe swaard doodsteek.

17. Maar Abisai, Seruja se seun, het Dawid gaan help en die Filistyn platgeslaan en doodgesteek. Daarna het Dawid se manne hom laat sweer dat hy nooit weer saam met hulle sal gaan veg nie. Hulle was bang hy kom iets oor en dit sou ’n donker dag wees vir Israel.

18. Daarna was daar nog ’n geveg teen die Filistyne in Gob. In dié geveg het Sibbekai wat van Gusa af gekom het, ook so ’n groot man doodgemaak. Die man se naam was Saf.