Die Boodskap

2 Kronieke 33:13-19 Die Boodskap (DB)

13. Toe Manasse so gebid het, het die Here besluit om hom te help. Hy het hom na Jerusalem laat teruggaan en hy het weer die koning van Juda geword.Dit het Manasse laat besef dat die Here werklik God is.

14. Manasse het toe die buitemuur van Jerusalem herbou. Hy het van ’n punt af, wes van die Gihonfontein in die Kidronvallei, verby die Vispoort tot by die Ofel die muur opgebou en baie hoër gemaak. Hy het ook militêre offisiere in die versterkte stede in Juda aangestel.

15. Hy het ook die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die tempel weggevat en die altare afgebreek wat hy vroeër op die tempelberg in Jerusalem gebou het. Hy het die rommel buite die stad weggegooi.

16. Daarna het Manasse die Here se altaar herstel en offers vir die Here gebring om vir Hom dankie te sê en Hom te loof. Hy het vir die mense van Juda gesê dat hulle die Here, Israel se God, moes dien.

17. Die mense het wel nog op die heilige plekke buite Jerusalem gaan offer, maar hulle het net vir die Here geoffer.

18. Die res van Manasse se geskiedenis, hoe hy tot sy God gebid het en hoe die sieners hom namens die Here, Israel se God, aangespreek het, word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel.

19. Die volgende sake word in Die Herinneringe van die Sieners beskryf: sy gebed; God se antwoord daarop; al die verkeerde dinge wat hy gedoen het; sy ongehoorsaamheid aan God; die plekke waar hy heilige plekke gebou het vir afgode en waar hy Asjerapale en die houtbeelde van die afgode neergesit het, nog voordat hy hom bekeer het.