Die Boodskap

2 Kronieke 31:4-15 Die Boodskap (DB)

4. Hy het ook vir die mense in Jerusalem opdrag gegee om die voorgeskrewe deel van hulle inkomste aan die priesters en die Leviete af te staan sodat hulle voltyds vir die Here kon werk.

5. Die mense het dadelik positief gereageer. Hulle het in oorvloed van die eerste oes van hulle graan, hulle nuwe wyn, olyfolie, heuning en ander landbouprodukte na die tempel toe gebring.

6. Die Israeliete en Judeërs wat in die dorpe van Juda gebly het, het ook bydraes gebring in die vorm van beeste en skape, asook spesiale geskenke wat hulle vir die Here hulle God gegee het.

7. Hulle het dié bydraes in die derde maand begin insamel en teen die sewende maand was hulle klaar daarmee.

8. Toe Hiskia en sy amptenare na die bydraes kom kyk, het hulle die Here en vir Israel geprys.

9. Terwyl Hiskia die hope goed met die priesters en Leviete bespreek het,

10. het Asarja, die hoëpriester uit Sadok se familie, vir hom gesê: “Sedert hulle begin het om die bydraes na die tempel van die Here te bring, het ons nog altyd genoeg gehad om te eet. Daar het nog altyd ’n hoeveelheid oorgebly, want die Here was goed vir sy mense.”

11. Hiskia het beveel dat hulle stoorkamers by die tempel moes inrig.

12. Die Leviet Kenanja moes oor al die geskenke toesig hou. Simi was tweede in bevel.

13. Die amptenare wat vir Kenanja en Simi gewerk het, was Jegiël, Asasja, Nagat, Aseal, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja. Dit was koning Hiskia en die hoëpriester Asarja, wat die hoof van die tempel was, se reëlings.

14. Die Leviet Kore seun van Jimna, wat die wag by die Oospoort was, moes toesig hou oor die geskenke aan God, asook oor die aanwending van al die bydraes vir die Here en oor die spesiale geskenke wat aan Hom gegee is.

15. Sy helpers was Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja. Hulle het die bydraes onder die priesterfamilies in hulle eie dorpe uitgedeel. Hulle het gesorg dat oud en jonk almal regverdig behandel word.