Die Boodskap

2 Kronieke 31:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Toe die fees verby was, het die Israeliete wat die fees bygewoon het, na al die dorpe in Juda, Benjamin, Efraim en Manasse gegaan. Hulle het die heilige pilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Hulle het die heidene se heilige plekke en die altare afgebreek en toe het almal na hulle eie dorpe en huise toe teruggegaan.

2. Hiskia het die priesters en die Leviete weer in diensgroepe ingedeel. Daar was groepe wat die brandoffers en die vredesoffers moes versorg, ander was verantwoordelik vir die erediens en die dank- en lofgesange vir die Here by die tempel.

3. Volgens die Here se reëls het die koning self ook diere geskenk vir die oggend- en aandoffers. Hy het ook diere gegee vir die weeklikse sabbatsfeeste en die maandelikse nuwemaansfeeste en vir die jaarlikse feeste.

4. Hy het ook vir die mense in Jerusalem opdrag gegee om die voorgeskrewe deel van hulle inkomste aan die priesters en die Leviete af te staan sodat hulle voltyds vir die Here kon werk.

5. Die mense het dadelik positief gereageer. Hulle het in oorvloed van die eerste oes van hulle graan, hulle nuwe wyn, olyfolie, heuning en ander landbouprodukte na die tempel toe gebring.

6. Die Israeliete en Judeërs wat in die dorpe van Juda gebly het, het ook bydraes gebring in die vorm van beeste en skape, asook spesiale geskenke wat hulle vir die Here hulle God gegee het.

7. Hulle het dié bydraes in die derde maand begin insamel en teen die sewende maand was hulle klaar daarmee.