Die Boodskap

2 Kronieke 28:7-12 Die Boodskap (DB)

7. Sikri, ’n held uit Efraim, het drie baie hoë amptenare van Juda doodgemaak. Hulle was Maäseja, een van die koning se seuns, Asrikam, die paleisbevelvoerder en Elkana, die koning se tweede-in-bevel.

8. Die Israeliete het 200 000 Judeërs gevange geneem: vroue, seuns en dogters, almal familie van hulle. Hulle het ook die land geplunder en baie goed gevat. Hulle het al die goed en die gevangenes na Samaria toe weggevat.

9. Oded was ’n boodskapper van die Here. Toe die leër van Israel na Samaria toe op pad was, het hy uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van julle voorouers, was kwaad vir Juda. Daarom het Hy toegelaat dat julle hulle so vernederend kon verslaan. Maar julle het die moord en doodslag te ver gevoer. Dit skree ten hemele.

10. Nou beplan julle om nog verder te gaan en om die vroue en kinders van Juda en Jerusalem wat julle gevang het, julle slawe te maak. Het julle nie self ook ernstige sondes teen die Here gedoen nie?

11. Luister na wat ek vir julle sê: laat die gevangenes vry, want hulle is familie van julle. Die Here is baie kwaad vir julle!”

12. ’n Klompie leiers van Efraim het met die profeet saamgestem. Hulle was Asarja, Joganan se seun, Berekja, Mesillemot se seun, Hiskia, Sallu se seun en Amasa, Gadlai se seun.