Die Boodskap

2 Kronieke 11:15-23 Die Boodskap (DB)

15. Hy het sommer sy eie priesters aangestel vir die heiligdomme, afgode en kalwers wat hy gemaak het.

16. Al die mense uit die noordelike stamme van Israel wat graag die Here, die God van Israel, wou dien, het die priesters en Leviete Jerusalem toe gevolg. Daar kon hulle aan die Here, die God van hulle voorouers, offers bring.

17. Dit het die koninkryk van Juda versterk. Hulle het drie jaar lank vir Rehabeam, Salomo se seun, ondersteun. Hulle het toegewyd probeer om die Here te dien soos hulle dit in die tyd van Dawid en Salomo gedoen het.

18. Rehabeam het met sy niggie Magalat getrou. Haar pa was Jerimot, een van Dawid se seuns, en haar ma was Abihajil, ’n dogter van Isai se seun Eliab.

19. Hy en Magalat het drie seuns gehad. Hulle was Jeüs, Semarja en Saham.

20. Later het Rehabeam ook met Maäka, Abisalom se dogter, getrou. Hulle twee het vier seuns gehad: Abia, Attai, Sisa en Selomit.

21. Rehabeam was liewer vir Maäka as vir sy ander vroue en byvroue. Hy het altesaam agtien vroue en 60 byvroue gehad en was die pa van 28 seuns en 60 dogters.

22. Rehabeam het Maäka se seun Abia leier onder die prinse gemaak om te wys dat hy die volgende koning sou word.

23. Hy was ook wys genoeg om vir sy ander seuns verantwoordelikhede te gee. Hy het hulle in die versterkte stede van Juda en Benjamin geplaas. Daar het hy verseker dat hulle baie kosvoorrade ontvang. Hy het ook gesorg dat hulle baie vroue het om mee te trou.