Die Boodskap

1 Korintiërs 12:18-31 Die Boodskap (DB)

18. Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het.

19. As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie!

20. Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak.

21. Dink julle die oog kan ooit vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie,” of dat die kop dit vir die voete kan toesnou?

22. Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie.

23. Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee.

24. Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word.

25. Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee.

26. As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly.

27. Kom ons kyk wat ons hieruit oor julle as gemeente kan leer. Julle as Christene is saam die liggaam van Christus. Elkeen van julle is ’n lid van hierdie liggaam.

28. Een lid van die gemeente is iemand vir wie die Here spesiaal gestuur het om sy boodskap te preek; ’n ander een moet in die gemeente self vertel wat die Here van die gemeente wil hê; dan is daar gemeentelede wat die ander moet touwys maak oor alles wat die Here ons geleer het; dan is daar mense wat spesiale kragtige dinge doen en ander vir wie die Here die krag gee om mense gesond te maak. Die Here het ook gesorg dat daar mense in die gemeente is wat ander kan help as hulle hulp nodig het. Party het weer die vermoë om te sorg dat die gemeentebedrywighede vlot verloop. Dan is daar ook mense in die gemeente wat “spesiale tale” praat. In die gemeente kan almal mos nie presies dieselfde ding doen nie.

29. Almal kan mos nie preek of die ander gemeentelede leer nie. Wie is dan oor om te luister?

30. Die hele gemeente kan mos nie net uit ’n klomp mense bestaan wat net kragtige dinge kan doen en mense gesond kan maak nie. Net so kan almal nie in “spesiale tale” praat of verduidelik wat met die “tale” gesê word nie. Wie gaan dan al die ander dinge doen wat in en deur die gemeente gedoen moet word? Daarom het verskillende lede van die gemeente verskillende dinge van die Here ontvang om te doen.

31. Doen moeite met die gawes wat vir jou situasie die beste is. Maar nou wil ek vir julle van iets vertel wat vir elkeen van julle altyd die beste is.