Die Boodskap

1 Konings 1:27-42 Die Boodskap (DB)

27. Is dit reg wat Adonia gedoen het, U Majesteit? Moet hy u opvolg? Het u alles so beplan sonder om ons daarvan te vertel?”

28. Koning Dawid het geantwoord: “Gaan roep vir Batseba! Sê sy moet onmiddellik hierheen kom!” Batseba het teruggekom en voor die koning gaan staan.

29. Toe het hy vir haar gesê: “Ek belowe voor die lewende Here, die God wat my uit soveel moeilikhede en probleme gehelp het,

30. dat ek vandag my belofte sal nakom wat ek lank gelede in die Naam van die Here, die God van Israel, aan jou gemaak het. Jou seun Salomo sal inderdaad koning word wanneer ek nie meer daar is nie.”

31. Batseba was oorstelp van vreugde. Sy het laag gebuig en gesê: “Mag koning Dawid vir altyd in die herinnering van sy mense voortleef.”

32. Toe het Dawid vir Sadok, Natan en Benaja laat kom en vir hulle gesê:

33. “Vat nou al my lyfwagte en dan laat julle my seun Salomo op my eie muil klim. Gaan julle dan almal saam met hom na die Gihonfontein toe.

34. Laat Sadok die priester, en Natan die profeet hom daar voor almal as koning van Israel salf. Laat die trompette klink en die mense skree: ‘Lank lewe koning Salomo!’

35. Gaan dan saam met hom terug en laat hom op my troon sit. Ja, laat hom daar sit, want hy is die een wat na my sal regeer. Ek het hóm gekies om oor Israel en Juda te regeer.”

36. “Ons sal so maak,” het Benaja geantwoord. “En mag die Here, u God, ons help dat alles goed sal verloop.

37. En soos die Here by u was, mag Hy ook by Salomo wees. Mag Salomo se koningskap selfs voorspoediger wees as dié van Dawid.”

38. Sadok, Natan, Benaja, asook die koning se lyfwagte het Salomo op koning Dawid se muil gesit en is saam met hom Gihonfontein toe.

39. Sadok het ’n houer met olie uit die tent waar die Here altyd teenwoordig was, saamgeneem. En hy het Salomo gesalf. Toe het hulle die trompette begin blaas en geskree: “Lank lewe koning Salomo.”

40. Almal is toe saam met Salomo terug. Hulle was uitbundig bly en het vrolik op hulle fluite gespeel. Van al die geraas het die aarde eintlik gebewe.

41. ’n Entjie daarvandaan het Adonia en sy gaste net klaar geëet en gedrink toe hulle skielik die geraas gehoor. Joab het die trompette veraf gehoor en gesê: “Waarom raas die mense so in die stad?”

42. Joab het skaars klaar gepraat of Jonatan die seun van die priester Abjatar kom daar aangestap. “Kom binne, Jonatan,” het Adonia gesê. “Jy is ’n goeie mens en ek weet jy bring vir ons goeie nuus.”