Afrikaans 1983

1 Tessalonisense 4:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe.

2. Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het.

3. Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.

4. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe;

5. julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.

6. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys.

7. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.

8. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.

9. Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê.

10. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.